International
Hof beslis ten gunste van Gwyneth Paltrow oor ski-ongeluk─── 06:28 Fri, 31 Mar 2023

Die Amerikaanse aktrise en sakevrou, Gwyneth Paltrow, het ’n hofsaak gewen waarin sy daarvan beskuldig is dat sy die afgetrede oogkundige Terry Sanderson in ’n beweerde ski-ongeluk in Utah in 2016 beseer het.
Sanderson het beweer Paltrow het “buite beheer” geski en hom getref.
’n Regter het ten gunste van Paltrow beslis ná die verhoor waarin jurielede getuienisse van Paltrow, Sanderson, familielede en deskundige getuies aangehoor het.
Jurielede het Donderdag net meer as twee ure beraadslaag en met 'n uitspraak ten gunste van Paltrow na die hofsaal teruggekeer. Sy is skadevergoeding van een dollar toegeken.
Na die uitspraak het Paltrow gesê sy is “tevrede met die uitslag”.
“Ek is tevrede met die uitslag en ek waardeer al die harde werk van regter Holmberg en die jurie, en bedank hulle vir hul bedagsaamheid in die hantering van hierdie saak.”
Sanderson het skadevergoeding van $300 000 (R5,3 miljoen) in die siviele geding geëis, terwyl Paltrow 'n teeneis ingedien het waarin sy haar regskoste en skadevergoeding van $1 (R17,83) geëis het.
Paltrow en Sanderson, wat albei tydens die verhoor getuienis gelewer het, was in die hof vir die uitspraak.
Toe sy die hofsaal verlaat het, het sy Sanderson aan die skouer geraak en iets vir hom gefluister, berig Mirror.
Volgens Sanderson se eis het Paltrow buite beheer geski en hom in die rug getref, waarna hy hard neergeslaan het. Hy het behandeling vir 'n breinbesering, vier gebreekte ribbes en ander ernstige beserings ontvang.
Paltrow het volgens hom opgestaan, omgedraai en weggeski. Haar instrukteur het geen poging aangewend om hom te help nie.
Tydens die verhoor het Paltrow opgestaan om te sê sy voel "baie jammer" vir Sanderson ná sy beserings. Sy het egter ontken dat sy die ongeluk veroorsaak het en herhaal dat sy die "slagoffer" van die ongeluk was.