International
EFF verwerp Dalai Lama se ‘flou verskoning’, vra vir sy arres─── 22:43 Tue, 11 Apr 2023
Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het 'n beroep op Indiese owerhede gedoen om die Tibetaanse geestelike leier, die Dalai Lama, Tenzin Gyatso (87), vir kindermishandeling in hegtenis te neem en te vervolg.
Dit kom nadat 'n video van die geestelike leier, wat 'n seun vra om sy tong te 'suig', hewige kritiek op sosiale media ontketen het.
In die video, wat soos ’n veldbrand versprei het, kan gesien word hoe die Dalai Lama 'n soen op die seun se lippe plant terwyl die kind vorentoe leun om sy eer te betoon.
Die Boeddhistiese monnik steek dan sy tong uit terwyl hy die kind vra om dit te suig. “Kan jy my tong suig,” word in die video gehoor.
Die video is op 28 Februarie vanjaar tydens 'n geleentheid in die Indiese stad Dharamshala geneem.
Die Dalai Lama het Maandag op Twitter vir sy gedrag om verskoning gevra.
"Sy heiligheid wil die seun en sy familie, sowel as sy talle vriende regoor die wêreld, om verskoning vra vir die pyn wat sy woorde moontlik veroorsaak het," lui 'n verklaring wat op sy Twitter-rekening geplaas is.
"Sy heiligheid terg dikwels mense wat hy ontmoet op 'n onskuldige en speelse manier, selfs in die openbaar en voor kameras," lui die verklaring. “Hy is spyt oor die voorval.”
Volgens ’n berig deur The Citizen verwerp die EFF die “flou verskoning”.
“Daar is geen verskoning vir kindermishandeling nie. Dit is ook veelseggend dat die verskoning byna 'n maand ná die betreurenswaardige voorval uitgereik is en eers ná toenemende druk van aktiviste teen kindermishandeling,” sê die EFF se woordvoerder, Leigh Ann Mathys.
“Sy veronderstelde verskoning het nie verklaar dat sy dade erg beledigend was nie. Daar word van godsdiensleiers verwag om beskermers te wees, nie misbruikers van die kwesbaarste in die samelewing nie.”
Die EFF sê kindermishandeling kan nie geduld word nie.
“Kinders is nie veilig in hul huise, skole, openbare ruimtes of by godsdiensleiers nie. Die wet moet ook geld vir enige godsdiensleier wat hom aan mishandeling skuldig maak. Die Indiese owerhede moet almal wat dit waag om kinders skade te berokken, waarsku dat hulle ongeag hul status vervolg sal word,” sê die EFF.
