International
Gupta-broers steeds Suid-Afrikaanse burgers – Motsoaledi─── 08:13 Sun, 16 Apr 2023
Die minister van Binnelandse Sake, dr. Aaron Motsoaledi, sê die twee Gupta-broers, Atul en Rajesh, is steeds Suid-Afrikaanse burgers. Motsoaledi het ook gesê hulle is in besit van Suid-Afrikaanse dokumente.
’n Hof in die Verenigde Arabiese Emirate het die versoek van die hand gewys dat die twee aan Suid-Afrika uitgelewer word om die gereg in die gesig te staar in verband met bewerings van bedrog, korrupsie en geldwassery.
Motsoaledi sê die betrokke staatsdepartemente sal na die kwessie van hul burgerskap moet kyk.
“Soos die wet bepaal, is hulle Suid-Afrikaanse burgers wat 'n paspoort verdien. Jy sal onthou dat daar 'n afdeling in die Grondwet is – net een klein reëltjie – wat sê geen burger kan van hul burgerskap ontneem word nie. Trouens, toe hulle hof toe gegaan het, het hulle daardie deel van die grondwet gebruik. Hulle is dus steeds burgers.
“Die enigste rede waarom ons geweier het, was toe hy besig was om ’n nuwe paspoort te neem omdat daardie een op die punt was om te verval. Ons verdediging in die hof was dat hierdie persoon 'n voortvlugtige is. Hy kan nie meer die voordele geniet as wat ander burgers geniet sonder om rekenskap te gee aan die burgers nie. Die regter het met ons saamgestem.”
