On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

International

Swanger ma sterf ná skoot deur 2-jarige seun

───   11:31 Thu, 22 Jun 2023

Swanger ma sterf ná skoot deur 2-jarige seun | News Article
Die swanger Laura Ilg en haar ongebore baba is dood nadat haar seuntjie haar in die rug geskiet het. FOTO: Facebook

'n Hoogswanger vrou van Norwalk in die Amerikaanse deelstaat Ohio is dood nadat haar tweejarige seuntjie haar met 'n vuurwapen in die rug geskiet het.

Dié tragiese voorval het Vrydag (16/6) gebeur. ABC News berig Laura Ilg (31), wat 33 weke swanger was, se seuntjie het glo met die gelaaide wapen wat op 'n bedkassie voor haar bed gelê het, begin speel.

Die polisie het 'n desperate 911-noodoproep van haar man, Alek, gekry. Hy was ten tye van die voorval by die werk.

“Sy het my histeries gebel, ek kon geen inligting uit haar kry nie, behalwe iets oor my seun en 'n 911-oproep,” het hy aan die polisie gesê.

Ilg was by haar bewussyn toe die polisie by hul huis opgedaag het. Beamptes het haar gevind waar sy op die slaapkamervloer gelê het. Haar seuntjie het gehuil en daar was 'n Sig Sauer Micro 9mm-pistool op die bedkassie.

“Sy het gesê sy was besig met wasgoed in die kamer en dat die deur gewoonlik gesluit is. Ek glo nie sy het besef die kind het haar gevolg nie,” sê die polisiehoof, David Smith.

“Sy is hospitaal toe gehaas waar 'n noodkeisersnit uitgevoer is, maar die dokters kon nie die baba red nie. Sy het drie uur later aan haar beserings beswyk.”

Die polisie sê die seuntjie is in sy pa se sorg.

“Alles in die ondersoek dui daarop dat dit ’n tragiese fout was,” sê Smith. “Die wapen was nie toegesluit nie en moes nie vir die kind toeganklik gewees het nie.”

Smith sê die huis het talle veiligheidsmaatreëls, soos babahekkies, maar op die dag van die skietery is die hekkies, wat gewoonlik toe was, oopgelaat.

Volgens News5 het die polisie ook twee ander gelaaide vuurwapens in die huis gevind.

Alek en Laura Ilg het in Maart aangekondig dat hulle 'n baba verwag. Laura is verlede week dood nadat haar seuntjie haar in die rug geskiet het. FOTO: Facebook

Smith het 'n beroep gedoen op mense om wapens ongelaai en toegesluit te hou. “Snellerslotte, geweerkluise - dit is nie so duur nie. Moet wapens dan ten minste nie laai nie.”

Die polisie is besig met 'n ondersoek om vas te stel hoe 'n tweejarige kind 'n sneller kan trek.

Die Ilg-egpaar het in Maart hul swangerskap aangekondig. Hulle het 'n babaseuntjie verwag.

People berig dat Alek Ilg op Facebook hulde aan sy vrou en ongebore kind gebring het: “Laura en ons ongebore seun, Talisen, is Vrydag oorlede. Daar is nie woorde vir die pyn en verlies wat ek voel nie. Sy was, is en sal altyd die liefde van my lewe wees.”

OFM Nuus




@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.