International
Titan-slagoffers ‘het in donkerte na musiek geluister’─── 13:55 Tue, 04 Jul 2023
Die slagoffers van die Titan-ramp het glo hul laaste oomblikke deurgebring deur in die donkerte na hul gunstelingmusiek te luister, het ’n verslag onthul.
Die Titan-insittendes is glo voor die tyd gevra oor hul gunstelingliedjies sodat dit op ’n Bluetooth-luidspreker gespeel kon word. Volgens Sky News het hulle mooi gevra dat dit nie Country-musiek moet wees nie.
Nuwe besonderhede is deur The New York Times gepubliseer oor hoe die duikers vir die 12 uur lange reis voorberei het.
Die pa en seun, Shahzada en Suleman Dawood, die Britse miljardêr Hamish Harding, die Franse ontdekkingsreisiger Paul-Henri Nargeolet en Stockton Rush, die uitvoerende hoof van die maatskappy OceanGate wat die Titan- onderwatertuig besit, is dood toe die vaartuig op 18 Junie ingeplof het.

Die insittendes het met hul rug na die geboë mure gesit. Foto: OceanGate
Die Dawoods het amper die ekspedisie misgeloop nadat hul aanvanklike vlug van Toronto na St John's in Newfoundland, Kanada, gekanselleer is en hul herbespreekte vlug vertraag was.
In die dae voor hul dood het die duikers veiligheidsvergaderings en aanbiedings aan boord van die Polar Prince bygewoon, 'n voormalige Kanadese Kuswag-ysbreker wat in 1959 gebou is.
Die duikers is gevra om dik sokkies en ’n warm hoed te dra, want dit sou kouer word hoe dieper die vaartuig daal.
Christine Dawood, die vrou en ma van Shahzada en Suleman, sê hulle het van OceanGate waterdigte langbroeke, ’n oranje waterdigte baadjie, stewels met staalpunte, reddingsbaadjies en valhelms gekry.
Hulle is gewaarsku om nie hul voete nat te maak as kondensasie weens die koue op die Titan se vloer sou vorm nie.

Die onderwatertuig se spreiligte moes afgeskakel bly totdat dit die seebodem bereik om batterykrag te bespaar. Foto: Twitter
Tydens die duik op pad af na die Titanic-wrak sou hulle deur die patryspoort slegs seediere kon sien wat lig kan weerkaats. Die onderwatertuig se spreiligte moes afgeskakel bly totdat dit die seebodem bereik om batterykrag te bespaar.
Rush, wat die vaartuig beheer het, het gewoonlik aan die agterkant van die duikboot weg van die patryspoort gesit. Die ander het met hul rug na die geboë mure gesit. Rush het nie van Country-musiek gehou nie.
Die vaartuig het volgens The New York Times teen ongeveer 25 meter per minuut gedaal, sodat diegene aan boord geen gevoel van beweging sou ervaar nie. Daar word ook berig dat meer Titan-sendings vroeër gestaak is.
Die eerste vier OceanGate-sendings vanjaar het nie die Titanic bereik nie. Verskeie kenners was bekommer oor die veiligheid van die sendings.
Tydens 'n Titan-sending in 2021 moes duikers hul gewig van kant tot kant beweeg om gewigte wat aan die duikboot vasgemaak is, los te maak.
Daar is met verskeie ondersoeke na die inploffing begin nadat wrakstukke sowat 487 meter van die Titanic gevind is vyf dae nadat die Titan-vaartuig kontak verloor het.
