International
Dit is oorlog as Poetin in hegtenis geneem word – Ramaphosa─── 08:57 Wed, 19 Jul 2023

Die inhegtenisneming van Wladimir Poetin sal neerkom op ’n oorlogsverklaring teen Rusland, het president Cyril Ramaphosa geskryf in hofstukke wat Dinsdag bekendgemaak is.
Poetin is uitgenooi na ’n Brics-beraad volgende maand in Johannesburg, maar die Internasionale Strafhof het ’n bevel vir sy inhegtenisneming uitgereik. Dit beteken daar word van Suid-Afrika verwag om hom in hegtenis te neem sodra hy in die land arriveer.
Die DA probeer om die regering in die hof te dwing om te verseker dat Poetin aangekeer word sodra hy sy voet in Suid-Afrika sit. In ’n beëdigde verklaring beskryf Ramaphosa die DA se aansoek as “onverantwoordelik” en sê nasionale veiligheid is op die spel.
The ICC’s arrest warrant against Putin a step towards justice for victims of war crimes in Ukraine. pic.twitter.com/SgfjKGnBzh
— Amnesty International (@amnesty) March 17, 2023
“Rusland het dit duidelik gemaak dat die inhegtenisneming van sy president ’n oorlogsverklaring sal wees,” sê Ramaphosa. “Dit sal teenstrydig wees met ons Grondwet om die gevaar te loop om in ’n oorlog met Rusland betrokke te raak. Dit is my plig as president om die land te beskerm,“ sê hy.
Suid-Afrika soek ’n kwytskelding kragtens die strafhof se reëls omdat sy inhegtenisneming die "veiligheid, vrede en orde van die land kan bedreig, sê Ramaphosa. Verlede maand het Ramaphosa 'n Afrika-vredesafvaardiging van sewe lande gelei, insluitende verteenwoordigers van Egipte, Senegal en Zambië, vir samesprekings in Kijif en St Petersburg.
'Swak argument' – DA
Suid-Afrika is die huidige voorsitter van Brics wat ook Brasilië, Rusland, Indië en China insluit. Die strafhof wil Poetin aankeer omdat Rusland kinders van Oekraïne onwettig gedeporteer het.
Adjunkpresident Paul Mashatile het onlangs aan die media gesê die regering het Poetin probeer oorreed om nie te kom nie – maar die poging is tot dusver onsuksesvol.
Ramaphosa se beëdigde verklaring, wat in Junie onderteken is en aanvanklik as “vertroulik” gemerk is, is Dinsdag bekendgemaak na ’n beslissing van die hooggeregshof in Johannesburg.
Another victory for media freedom, open justice and accountability! (amicus) argues balancing the rights of open justice with its limitations. @PresidencyZA Court documents must now be public on the issue of Mr Putin’s arrest @Dariomilo @Our_DA
— Media Matters (@MediaMattersZA) July 19, 2023
READ: https://t.co/G2WE1IinXr pic.twitter.com/kAg9Un9cuQ
John Steenhuisen, DA-leier, het die hof se besluit verwelkom en Ramaphosa se argument dat dit tot oorlog kan lei as “onwaarskynlik” beskou.
“Wanneer besluite oor buitelandse beleid die vermoë het om Suid-Afrika se internasionale reputasie en ekonomie te vernietig, is dit van uiterste belang dat die regering sy verpligting om oop en deursigtig te wees nakom,” sê Steenhuisen in 'n verklaring.
Suid-Afrika het sterk ekonomiese en handelsbetrekkinge met Amerika en Europa, maar die met Rusland is baie kleiner, maar die regering het noue bande met Rusland wat dekades terugdateer, toe die Kremlin die regerende ANC in sy stryd teen apartheid ondersteun het.
Ramaphosa beskryf dit as “ingewikkelde diplomatieke kwessies”.