On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

International

Champs-Elysées gesluit vir Franse piekniek

───   15:13 Mon, 27 May 2024

Champs-Elysées gesluit vir Franse piekniek | News Article
Meer as 4 000 Parysenaars is verwelkom om ’n gratis ete te geniet. Foto: Twitter

“Dit is ’n manier om vir Parysenaars te sê: ‘Kom terug na die Champs-Élysées’, om hulle te wys dat dit nie net vir luukse inkopies is nie.”

Die wêreld se mooiste straat is omskep in ’n tuinpartytjie en ’n piekniek in Parys, waar meer as 4 000 inwoners verwelkom is om ’n gratis ete te geniet, en Franse geregte en kookkuns te vier.

Die grootste piekniek van die jaar het Sondag (26/5) in die Champs-Elysées op ’n groot rooi-en-wit geruite tafeldoek plaasgevind met lekkernye van bekende sjefs.

Die gelukkige piekniekgangers is deur middel van ’n trekking gekies en van gratis piekniekmandjies voorsien, gelaai met lekkernye van Parys se topsjefs, insluitend pasteitjies en broodjies.

Eens ’n gunstelingpromenade vir Parysenaars is die Champs-Élysées die laaste paar jaar geleidelik deur plaaslike mense vermy, aangesien gewilde winkels en teaters plek gemaak het vir luukse boetieks wat net vir ryk toeriste beskore is. The Guardian berig die doel van die geleentheid is om inwoners hierheen te laat terugkeer.

“Dit is ’n manier om vir Parysenaars te sê: ‘Kom terug na die Champs-Élysées’, om hulle te wys dat dit nie net vir luukse inkopies is nie,” sê Marc-Antoine Jamet, hoof van die Champs-Élysées-komitee, wat die geleentheid gereël het.

Die kos is in agt tydelike kombuise berei wat langs die straat opgerig is en deur restaurante in die straat verskaf is en sluit van die bekende Fouquet’s tot McDonald’s in.

’n Tafeldoek van 216 m is van die Arc de Triomphe tot by die kruising van George V-laan gelê, wat as sitplek vir die geleentheid gedien het. Die tafeldoek het ’n totale oppervlakte van 4 212 m2 gehad en is in Frankryk van 100% herwonne materiaal vervaardig. 

Dit is nie die eerste transformasie van die ikoniese straat deur die organiseerders nie. Hulle het dit ook al in ’n reuserolprentteater omskep. Die byeenkoms het plaasgevind presies twee maande voor Parys die openingseremonie van die Olimpiese Somerspele sal aanbied.

Champs-Élysées gaan in ‘buitengewone tuin’ omskep word

In 2021 het die burgemeester Anne Hidalgo die groen lig gegee aan ’n €250 miljoen-projek om die Franse hoofstad se bekendste straat te transformeer. Sy het egter gesê die ambisieuse projek sal nie begin voor die Franse hoofstad die Olimpiese Somerspele aangebied het nie.

“Die legendariese laan het die afgelope 30 jaar sy prag verloor. Dit is geleidelik deur Parysenaars verlaat en is deur verskeie krisisse getref: die gilets jaunes (die geel baadjies), stakings, die pandemie en die ekonomie,” het die komitee gesê en Hidalgo se aankondiging verwelkom.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.