On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

International

‘Google my!’ – Gupta-broer aan bouer voor selfdood

───   07:39 Mon, 10 Jun 2024

 ‘Google my!’ – Gupta-broer aan bouer voor selfdood | News Article
Ajay Gupta en sy swaer Anil Gupta se borgtog is Vrydag in Indië geweier. Foto: X/Thulani Ndaba

“Dit is teen die wet in Indië om iemand tot die punt van selfdood te dryf.”

Een van die Gupta-broers wat vir onder meer staatskaping in Suid-Afrika gesoek word, Ajay Gupta, en sy swaer Anil Gupta is in polisieaanhouding in Indië. Dit volg ná die selfdood van ‘n prominente ontwikkelaar en bouer.

Satyendra Singh Sahni (52), ook bekend as Baba Sahni, het na bewering ’n brief geskryf waarin hy gesê het dat hy erg depressief was weens voortdurende dreigemente en finansiële konflik met verskeie sakemanne, onder wie Ajay en Anil Gupta.

‘Sahni se liggaam is op 24 Mei gevind’

Hy het glo in die brief geskryf dat Ajay Gupta hom uitgedaag het om hom en sy Suid-Afrikaanse verlede te google. Die polisie het Ajay (58) en Anil verlede Vrydag tuis in die Dalanwala-omgewing van Dehradun in hegtenis geneem, omdat hulle glo bygedra het tot Sahni se selfdood. Sahni se liggaam is op 24 Mei aan die onderkant van ’n woonstelblok gevind. 

Sahni se seun sê hy het ’n brief gelos waarin hy die twee mans daarvan beskuldig dat hulle hom gedreig het. In Indië is dit onwettig om iemand tot die punt van selfdood te dryf.

Times of India haal die direkteur van vervolging, Girish Pancholi, aan wat sê Sahni beskuldig vir Ajay en Anil daarvan dat hulle hom “gedwing het om sy eie lewe te neem” nadat hulle “vals sake teen hom” aanhangig gemaak het.

Die twee Guptas se “swak” borgtogaansoek is Vrydag (7/6) in die streekhof in Dehradun geweier. As hulle skuldig bevind word, kan die Guptas tien jaar agter tralies deurbring en ’n boete opgelê word. 

In The New Indian Express word beweer die voorval word verbind met die “Ajay” van die staatskapingbeskuldigde Gupta-broers wat glo steeds op vrye voet is.

Die Indiese Gupta-broers – Atul, Ajay en Rajesh – het ’n uitgebreide sakeryk in Suid-Afrika gebou nadat die land in 1993 oopgestel is vir buitelandse beleggings en hulle na Suid-Afrika verhuis het.

In 2018 het Suid-Afrikaanse ondersoekers gesê die Guptas het met oudpres. Jacob Zuma saamgespan om staatsbates te kaap onder ’n stelsel wat volgens een skatting etlike miljarde dollar beloop. 

Die twee jonger broers, Atul en Rajesh, het na die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) gevlug. Ajay is in 2018 as ’n voortvlugtige verklaar, maar Suid-Afrika het die aanklagte teen hom die volgende jaar laat vaar. In 2022 is Atul en Rajesh in Dubai in die VAE in hegtenis geneem.

Verlede jaar het ’n hof in Dubai op ’n tegniese punt teen hul uitlewering aan Suid-Afrika beslis. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, het in April vanjaar gesê Suid-Afrika probeer steeds by die VAE uitvind wat skeefeloop het met die uitleweringsversoek.

Intussen het Rajesh en Atul ’n hof in Indië versoek om hul siek ma in Indië te besoek sonder om aangehou te word. In hul aansoek het die broers gesê dat “hulle onskuldig is, [en] ’n heksejag deur die wetstoepassingsagentskappe in Pretoria … teen die aansoeker en sy familielede uitgevoer word weens die regimesverandering in Suid-Afrika.”

Indië het verlede week die groen lig gegee vir die twee broers om vir twee maande hul siek ma te besoek.

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.