International
Charlie Kirk: Ons hét verdagte, sê Trump─── 14:23 Fri, 12 Sep 2025

’n Persoon is in aanhouding wat in alle waarskynlikheid die verdagte is na wie landwyd gesoek is ná die sluipmoord van die konserwatiewe aktivis Charlie Kirk, het pres. Donald Trump van die VSA Vrydagmiddag in ’n Fox News-program gesê.
“Ek dink met ’n hoë mate van sekerheid het ons hom in aanhouding,” het Trump in ’n regstreekse onderhoud op Fox & Friends gesê. Hy het bygevoeg dat hy net vyf minute voor die onderhoud ingelig is oor die verdagte se aanhouding ná wat hy as ’n gesamentlike poging tussen wetstoepassers en ’n persoon naby aan die verdagte beskryf het.
Die verdagte is deur iemand “baie naby aan hom” uitgewys, en die leidraad was glo van ’n predikant afkomstig, het hy bygevoeg. Die predikant het ’n vriend gekontak – ’n senior Amerikaanse wetstoepasser – wat toe die verdagte se pa betrek het.
Die verdagte op beeldmateriaal wat die FBI gister uitgereik het. Foto: X
“Dit was ’n predikant, en die predikant het na ’n vriend gegaan – ’n predikant wat betrokke is by wetstoepassing – en sy goeie vriend is ’n senior Amerikaanse polisiehoof. Hulle het dit van daar af gehanteer, en toe het die pa betrokke geraak,” het Trump verduidelik.
Die president wou nie bevestig of die pa bewus was van sy seun se beweerde betrokkenheid by die misdaad nie, maar het genoem dat die verdagte self na die polisiekantoor geneem het.
Trump het egter gewaarsku dat die situasie “onderhewig aan verandering” is.
Kirk was ‘briljant’
Trump het ook hulde gebring aan Kirk en hom beskryf as “soos ’n seun” vir hom. Hy het Kirk geprys vir sy werk om jong kiesers te mobiliseer.
“Hy was ’n briljante ou wat my met TikTok gehelp het. Ek het nog nooit gesien dat jong mense só na een persoon stroom soos na Charlie nie.”
Trump het nie die video van die skietery gekyk nie, “aangesien hy nie Kirk op daardie manier wil onthou nie”. Trump het ook gesê hy hoop dat die verdagte die doodstraf sal kry indien skuldig bevind.
Bronne: Fox News, CNN, BBC
OFM Nuus mvh