International
Chinese kosafleweraar wen groot literêre prys met werkersdigkuns─── 09:09 Mon, 20 Jul 2026
’n Chinese kosafleweraar wat van sy gedigte tussen aflewerings op los papiertjies neergeskryf het, het een van China se vernaamste literêre pryse gewen.
Wang Jibing (56) se bundel Low flight, waarin hy die daaglikse uitdagings van afleweringsryers verwoord, is met die Lu Xun-literêre prys bekroon. Die toekenning dra die naam van ’n skrywer wat dikwels as die vader van die moderne Chinese letterkunde beskryf word.
Wang het omstreeks 2019 as afleweringsryer begin werk en deur sy gedigte en essays op sosiale media aandag getrek. Sy sukses maak hom deel van ’n groeiende groep blouboordjiewerkers wie se skryfwerk erkenning kry omdat dit lesers ’n blik bied op die druk waaronder mense in China se omvangryke gig-ekonomie werk.
Die toekenning volg op dekades waarin Wang allerlei los werk moes verrig. Hy is in die Jiangsu-provinsie gebore, maar het weens geldelike probleme tuis reeds as tiener die skool verlaat. Hy het onder meer in die boubedryf gewerk, afval versamel en goedere by ’n straatstalletjie verkoop voordat hy kos begin aflewer het.

Wang Jibing. Foto: Facebook/News of Bahrain
Sy liefde vir lees het ondanks dié omstandighede behoue gebly. Hy publiseer reeds sowat ’n dekade lank gedigte en essays op sosiale media. Sy gedig Man in a Hurry het in 2022 opslae aanlyn gemaak. Dit is geïnspireer deur ’n frustrerende aflewering in 2019, toe hy ure lank na ’n klant gesoek het wat die verkeerde adres verskaf het.
Wang se eerste digbundel, Man in a hurry: Poems of a food delivery rider, het in 2023 verskyn. Low flight het in 2024 gevolg en bevat gedigte wat gegrond is op onderhoude en opnames wat hy met sowat 200 afleweringsryers gedoen het. Een van die verse stel dit dat ’n mens nie hoog hoef te vlieg wanneer jy jou vlerke sprei nie: laag vlieg is ook vlieg.

Wang Jibing het onderhoude met honderde afleweringsryers in China gevoer. Foto ter illustrasie: Pexels
Hoewel die prys sy literêre aansien verhoog het, beplan Wang nie om sy werk as afleweringsryer dadelik te staak nie. Hy het aangedui dat hy tot sy 60ste verjaardag wil aanhou werk.
Hy het die inkomste nie meer noodwendig nodig om te oorleef nie, maar geniet die werk en meen dit hou hom fiks. Die prys sal volgens hom nie sy eenvoudige lewenswyse of identiteit verander nie.
Wang se erkenning sluit aan by die sukses van ander Chinese werkerskrywers. Hu Anyan, ’n voormalige koerier, se memoires I deliver parcels in Beijing het ’n topverkoper geword, terwyl Fan Yusu se outobiografiese essay oor haar lewe as trekarbeider in 2017 wyd aanlyn versprei is. Hierdie werke gee ’n stem aan werkers wie se ervarings selde sentraal in hoofstroomletterkunde staan.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

