On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

Slimhouers, streng reëls bekamp Suid-Korea se kosafval; New York wil ook

───   14:46 Thu, 17 Sep 2026

Slimhouers, streng reëls bekamp Suid-Korea se kosafval; New York wil ook | News Article
Die Daejeon Bio Energy Centre herwin tussen 70% en 75% van die afval wat dit ontvang as energie. Foto: Daejong Bio Energy Centre

Suid-Korea het daarin geslaag om die hoeveelheid huishoudelike kosafval wat op stortingsterreine beland, van 97% tot bykans nul te verminder. Nou probeer New York dié sukses navolg.

Seunghwan Hong van Seoel neem op ’n Saterdagmiddag die week se huishoudelike groenteafval, oorskietrys en kosafval na die spesiale voedselafvalhouer in sy woonstelblok. Hy tik met sy kaart teen ’n skandeerder. Die deksel gaan oop, gewig van die vullis word op ’n skerm vertoon en die koste word bloot by sy huishouding se rekening gevoeg.

Dit neem minder as ’n minuut, maar agter dié eenvoudige handeling lê een van die mees ambisieuse afvalbestuurprojekte ter wêreld. Suid-Korea het oor die afgelope 30 jaar ’n groot verandering in die hantering van huishoudelike voedselafval teweeggebring.

Kosafval is ’n wêreldwye problem in ontwikkelde lande. Suid-Korea se oplossing is gebore uit ’n afvalkrisis gedryf deur vinnige verstedeliking in die 20ste eeu. Probleme met stortingsterreine en sanitasie waar kos saam met ander afval gestort is, het uitdagings geskep, berig die BBC.

Seunghwan Hong by die slimafvalhouer in sy woonstelblok. Foto: Yeni Kim

Die uitwerking van die veranderinge in afvalbestuur sedert die 1990's in dié land is merkwaardig: Suid-Korea se voedselafvalherwinning het van 2.6% in 1996 tot byna 97% in 2023 gestyg.

Maar hoe het hulle dit reggekry? In 1995 het die regering ’n volume-gebaseerde afvaltarief ingestel. Twee jaar later, in 1997, is die skeiding van voedselafval verpligtend gemaak en teen 2005 word die storting van kos op stortingsterreine verbied. ’n Loodsprogram met slimafvalhouers is in 2010 begin en teen 2013 het die regering ook die storting in die see verbied van vloeistof wat uit voedselafval lek.

Een van die sigbaarste veranderinge is die gebruik van slimhouers met radiofrekwensie-identifikasie (RFID)-tegnologie. Die houers weeg elke huishouding se afval en bereken die koste daarvan. 

‘Dit produseer genoeg elektrisiteit om in die daaglikse behoeftes van sowat 6 000 huishoudings te voorsien’

Volgens die regering was daar teen 2025 meer as 151 000 sulke houers in gebruik, wat meer as 8,61 miljoen huishoudings bedien. “Om die gewig en koste van my voedselafval te sien, het my meer bewus gemaak van hoeveel ek weggooi,” sê Hong.

Voedselafval wat nie op stortingsterreine beland nie, kan ook vir energie gebruik word. Wanneer organiese afval ontbind, stel dit metaan vry, ’n kragtige kweekhuisgas. 

By bioreaktore kan die metaan egter opgevang en as brandstof gebruik word. Die Daejeon Bio Energy Centre herwin tussen 70% en 75% van die afval wat dit ontvang as energie. Dit produseer genoeg elektrisiteit om in die daaglikse behoeftes van sowat 6 000 huishoudings te voorsien.

New York volg die voorbeeld

Daar is meer as 340 soortgelyke fasiliteite in Suid-Korea. Die stelsel is egter duur: Ten spyte van huishoudings se bydrae, bestee die regering meer as 600 miljard Suid-Koreaanse won, ongeveer R7,06 miljard, aan munisipale afvalbestuur, insluitend voedselafval.

“Suid-Korea het aansienlike vordering met die herwinning van voedselafval gemaak, maar ons staan nou op ’n keerpunt, met nuwe tegnologieë en beleide wat kan help om dié vordering nog verder te voer,” sê Munsol Ju, ’n senior navorsingsgenoot by die Korea Environment Institute.

New York het in Oktober 2024 die skeiding van voedselafval vir inwoners verpligtend gemaak en Suid-Korea een van sy modelle genoem. Die program dek byna 3,4 miljoen huishoudings en inwoners moet voedselreste afsonderlik hou vir weeklikse insameling.

Deelname bly egter ’n uitdaging. Die stad se sanitasiedepartement het met meer as 60 000 inwoners gepraat en meer as 63 000 kennisgewings van oortreding uitgereik. Meer as 400 slimkomposhouers is ook oor die stad versprei. Dié houers is 24 uur per dag beskikbaar en kan gratis met ’n selfoontoepassing gebruik word.

In 2025 het New York sowat 140 000 ton huishoudelike organiese afval bestuur – ongeveer 9% van die 1,5 miljoen ton wat huishoudings jaarliks genereer. Hoewel dit ’n verbetering is, is New York steeds ver van Suid-Korea se byna 97%.

Steven Cohen van Columbia Climate School sê Suid-Korea se RFID-stelsel kan veral in New York nuttig wees, aangesien sowat 70% van New Yorkers in woonstelle woon.

OFM Nuus sm 

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.