On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta Yvette
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Local News

Seun vas vir moord op Harrismith-dominee

───   20:56 Fri, 09 Nov 2012

Seun vas vir moord op Harrismith-dominee | News Article
Lani Fouché

Harrismith - 'n Tweede persoon is Vrydagmiddag weens die moord van 'n dominee van Harrismith en sy aanstaande skoonseun in hegtenis geneem. Vrystaat-polisiewoordvoerder, Mmako Mophiring, het bevestig dat die vermoorde Willem Brits se seun vanmiddag skuins na vyfuur ná ondervraging deur die polisie gearresteer is. Dié 28-jarige seun was ten tyde van die voorval in die pastoriehuis se badkamer toegesluit met vasgebinde hande en voete.

60-jarige Brits en sy vrou, Dorothea, is Donderdagaand omstreeks nege-uur deur 'n gewapende man of mans in hul huis se sitkamer oorval en met 'n byl aangeval. Willem het Vrydagoggend in 'n plaaslike hospitaal aan sy wonde beswyk, en sy vrou is in 'n kritieke toestand in die Mediclinic Bloemfontein. Die egpaar se aanstaande skoonseun, 26-jarige Gerhardus Vermeulen, is in die voorval doodgeskiet toe hy glo die egpaar probeer verdedig het. Hul dogter, 23-jarige Thea, is ongedeerd maar erg getraumatiseer, volgens 'n familiewoordvoerder, AJ Scherrer.

Die eerste verdagte is reeds Donderdagaand kort na die voorval langs die N3 aangekeer. Mophiring sê daar was bloed aan sy klerer en hy het 'n gesteelde .22 rewolwer en selfone van die egpaar by hom gehad. Die polisie het toe gesê hulle soek na nog twee verdagtes, maar daardie soektog is vir eers vir dié naweek afgelas nadat hulle die seun in hegtenis geneem het. "Nuwe bewyse het nou na vore gekom. Ons sal sodra hulle in die hof verskyn het weet of ons na nog verdagtes moet soek." Die twee sal Maandag in die Landdroshof op Harrismith verskyn.

Woordvoerder vir Mediclinic Bloemfontein, Cassie Caarstens, het gesê dat Dorothea teen Vrydagaand laat eers geopereer sou word, en dat sy steeds in 'n kritieke maar stabiele toestand was. "Sy het nog nie bygekom nie. Ons het haar onder verdowing gehou." Sy is ook aan 'n ventilator gekoppel.

Scherrer het vroeër gesê die dood van Brits het die gemeenskap geskok, maar daar moet berusting by God gevind word dat slegs sy aardse lewe beëindig is. "Hy het vir baie jare goeie werk vir die gemeenskap en in die gemeente gedoen. Daarom is dié voorval so 'n groot verlies vir almal hier."

Oor die jongste arrestasie het Scherrer gesê die familie en die gemeenskap dra kennis daarvan dat die seun vir ondervraging ingeneem is. "Ons neem kennis met groot hartseer, maar die polisie moet kans gegun word om hul ondersoeke te doen. Die waarheid sal op die einde seëvier. Ons is oortuig dat die polisie uitstekende werk doen, en ons is dankbaar dat hulle so vinnig na die voorval opgetree het." Hy sê met die ander drie kinders gaan dit goed onder die omstandighede.

Hy sê die oggenddiens by die NG Kerkenberg op Harrismith waar Brits 'n dominee was, sal Sondag normaal voortaan, maar sal op 'n spesiale manier ingerig word. Ook die beplande kerssangdiens sal Sondagaand normaal voortgaan.




Die vermoorde Gerhardus Vermeulen. (Foto: Facebook)

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.