Local News
Uitspraak in Kovsie-saak vandag verwag─── OWEN KOCK 06:35 Tue, 09 Sep 2014
Bloemfontein - Uitspraak in die opspraakwekkende Kovsie-aanrandingsaak word na verwagting vandag in die Bloemfonteinse Streekhof deur landdros Rasheed Matthews gelewer.
Cobus Muller staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, roekelose en nalatige bestuur en crimen injuria.
Charl Blom staan tereg op 'n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die klagte spruit uit 'n voorval op 17 Februarie vanjaar, toe die twee na bewering 'n medestudent, Damane Muzi Gwebu, met hul voertuig raakgery, aangerand en die k-woord toegesnou het.
Intussen het twee van die staat se getuies gesê dat 'n blondekopman die voertuig bestuur het, terwyl Gwebu die bestuurder as 'n donkerkopman uitgewys het. Die staat se laaste getuie kon nie met sekerheid sê wie die voertuig bestuur het nie, aangesien hy twee ure na die voorval met die beskluldigdes gepraat het.
Die staat se saak is twee weke gelede heropen om duidelikheid te kry oor wie die voertuig sou bestuur het, maar teen verlede week, toe uitspraak gelewer sou word, was daar steeds geen duidelikheid nie.
Owen Kock/OFM-nuus
Owen Kock/OFM-nuus
