Local News
Harrismith-man kaal op stoel vasgebind tydens rooftog─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:08 Thu, 17 Sep 2015

Harrismith - 'n Man in sy vroeë dertigs, wat sy eie sakeonderneming in Harrismith bedryf, is na wat verneem word in 'n bestendige toestand in 'n plaaslike hospitaal nadat hy kaal vasgebind en vermoedelik geslaan is tydens 'n rooftog.
Volgens 'n ingeligte bron is die sakeman Dinsdagaand in sy kantoor oorval. Die booswigte het sy klere uitgetrek en hom op 'n stoel vasgebind.
Die bron sê die man is vermoedelik met 'n skerp voorwerp teen die kop geslaan. Daar was grafitti teen die kantoor se mure en op hom.
Die bedwelmde man is eers gisteroggend in sy kantoor gekry. Hy was bewusteloos.
Polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Mmako Mophiring, het die voorval gisteraand aan OFM-nuus bevestig. Volgens hom was daar gebruikte spuitnaalde op die vloer van die kantoor wat vermoedelik deur die booswigte op die slagoffer gebruik is. Rekenaars word van die toneel vermis.
Die polisie ondersoek 'n klag van sakeroof.
Die sakeman se verlate bakkie is 'n ent van die toneel gevind.
Christal-Lize Muller/OFM-nuus