Local News
SA kan by Bloem leer hoe om misdaad te bekamp─── MARK STEENBOK 14:35 Tue, 06 Sep 2016

Bloemfontein - Daar is ‘n massiewe probleem met gemeenskapsveiligheid in Suid-Afrika, maar dit kan in ‘n groot mate deur gemeenskappe self beheer word.
Dit is volgens die hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, Ian Cameron.
Sy mening volg nadat die burgerregte-organisasie in samewerking met die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (SAIRV) vandag ‘n verslag, "Hoe om die oorlog teen misdaad in Suid-Afrika te wen", in Pretoria bekend gestel het. Daar word onder meer in die verslag drie vorms van selfbeskerming in gemeenskappe ondersoek wat binne die raamwerk van die Grondwet val. Cameron sê Suid-Afrika kan uitsien na 'n positiewe toekoms indien vennootskappe, soos dié in Bloemfontein, aan die orde van die dag is.
“Daar is omtrent agt buurtwagte in Bloemfontein. Hulle werk fantasties saam met die polisie en al die private sekuriteitsmaatskappye daar. Ons kan duidelik sien hoe misdaad hokgeslaan word daar en hoe woonbuurte baie veiliger is. As ons die Bloemfontein-model regoor die land toepas, met die verskillende organisasies wat saamwerk, dan gaan ons beslis sukses behaal,” sê Cameron.
OFM-nuus