Local News
Drie NW-veediewe vas─── MARK STEENBOK 15:31 Tue, 18 Apr 2017
Groot Marico - Drie vermeende veediewe wat verbind word met verskeie gevalle van veediefstal in Noordwes sal na verwagting weer op 25 April in die Groot Marico landdroshof verskyn.
Polisiewoordvoerder, Pelonomi Makau, sê Letlhogonolo Motsusi, Karabo Molefi en Selebaleng Motsusi sal dan vir borg aansoek doen. Die drie is Sondag in die Reboile informele nedersetting deur die veediefstaleenheid vasgetrek nadat hulle op ‘n wenk uit die gemeenskap gereageer het. Makau sê die drie word verbind met gevalle van veediefstal in die Groot Marico gebied in Maart en April vanjaar waar ongeveer honderd bokke en skape as gesteel aangemeld is.
“In hierdie stadium kon ons nog nie die bokke en skape terugkry nie. Ons doen ‘n beroep op mense en veral boere om hul vee behoorlik te merk sodat ons die diere kan identifiseer as hulle gesteel word,” sê Makau.
OFM-nuus
