News Talk
Geelvinke begin vanjaar baie vroeg bou─── 20:48 Mon, 07 Jul 2014

Karien Jordaan
Bloemfontein - Elke jaar, aan die einde van die winter, hou ek die platkroon in ons tuin dop om te sien wanneer die eerste geelvink gaan wegval met die weef van sy nes. Ek kan vir ure sit en kyk hoe behendig die mannetjies is. Met 'n magdom grasspriete, en hul bek as enkele stuk gereedskap, vleg hulle binne ure die sterkste nes denkbaar.
Maar die afgelope naweek (lank voor die einde van die winter, trouens min of meer aan die BEGIN van die winter) het 'n oorgretige vink begin bou, te midde van die bittere koue en wat my betref, heeltemal te vroeg! Wat my ook opgeval het is dat die vink nog hoegenaamd nie in broeikleure was nie.

Facebook-vriende het saam gespekuleer oor redes waarom die meneertjie so 'voortydig' is met sy nesbouery: "Baie baie braaf!", "Miskien is hulle nie meer jonk nie en wil nie te lank wag om met 'n gesin te begin nie", "Dalk 'n tiener wat jeuk?", "Behuising raak nou skaars hier so hulle maak net seker van 'n plek. Hoeveel charge jy hulle?", "Die biologiese klok TIK dalk? Of dalk is geelvink real estate skaars", en "hulle hou seker net nie daarvan om te sit en niks doen nie !!"
Tot sover as Johannesburg het mense laat weet dat hulle ook die verskynsel opmerk - die vaal vinkies wat verwoed nes bou.
Dalk weet die geveerdes meer as wat ons weet omtrent die komende seisoen. Dalk kom die reën vanjaar vroeg?
Hoe dit ookal sy, die natuur bly nou maar eenmaal iets om jou aan te verwonder.