News Talk

Eina onder ’n skewe reënboog

───   06:57 Tue, 25 Aug 2015

Eina onder ’n skewe reënboog | News Article

Christal-Lize Muller  

Platgeslaan. Absolute skok en verbystering onder baie wat hom geken het, elke Sondag geselsies ná kerk aangeknoop het, bure en ou vrinne. Daar is ook diegene wat wild van woede is oor ‘n donker Suid-Afrika sonder hoop. Wild soos ‘n trop Brahmane wat draad-spring. Dit is alles verby, skryf die leraar van die kerk waar oom Koos van der Leeuw, ‘n vooraanstaande beesboer, altyd so betrokke was. ‘n Geliefde eggenoot, pa, oupa, familielid en vriend. ‘n Staatmaker wie se wortels baie diep in Potchefstroom gegrawe lê.  Sy skietdood het die gemeenskap hard geruk. Misdaad het weer geseëvier. Dié keer is die lewe van iemand voor wie jy grootgeword het ‘gesteel’.

Ds. Coenie Calitz vertel dit was vir hom ‘n voorreg om saam met oom Koos se gesin by die Mediclinic Sandton in Johannesburg te wees. Om saam met hulle  kosbare laaste oomblikke met liewe oom Koos te deel. ‘n “Aangrypende ervaring.”  ‘n Seun wat langs sy pa se hospitaalbed bid. Die Here moet hulle teen wraak en gedagtes daaraan bewaar. Hy moet help dat dié “ouens” (booswigte)agterkom hulle het ‘n goeie man weggevat. Roerend. ‘n Seun wat kwaad moet wees, maar eerder opreg bid.  Hy (Calitz) het “klein en nietig gevoel”. Geloof maak ‘n verskil aan mense wat deur die boosheid van ‘n stukkende wêreld geraak word. Calitz vertel sag en vol deernis die gesin was hoopvol kort na oom Koos in ‘n rooftog by die Potchefstroom-abattoir geskiet is. Hy is per helikopter na Johannesburg gebring. Al het hy ‘n skietwond in die kop opgedoen, het hy natuurlik asem gehaal. Almal was vol hoop.

Later deel Calitz op Facebook hulle is almal om oom Koos se bed. Hy is reeds breindood verklaar met sy aankoms. Hy skryf oom Koos se hart en asemhaling is deur ‘n masjien aan die gang gehou, ‘n masjien wat oomblikke gelede afgeskakel is. Sy beskrywing: “die hartklop en bloeddruk kom nou heeltyd af...dis net 'n kwessie van tyd”. Oom Koos is reeds by die Here. Bid vir sy vrou, tannie Marietjie en kinders, Mornette en Karel, skryf hy.

 

Later die aand, in ‘n teksboodskap, sê Calitz almal se batterye is pap na dié hartseerdag. Hy word gevra om ‘n boodskap van hoop oor die radio te gee. Dit is broodnodig.

Vroegoggend gesels hy. Sy stemtoon het ‘n kalmerende effek. Hy verwys na Piet Naudé se boek: Onder die skewe reënboog. “Dit beskryf so baie van die land waarin ons bly, van ‘n reënboog wat eintlik baie skeef is. Terselfdertyd moet ons protesteer teen wat verkeerd is en vashou aan ‘n God wat sorg.”   

Dit is waar. Dit is al waaraan gelowiges kan vashou, maal dit deur my gedagtes.

Calitz sê verder die naasbestaandes en vriende gaan in die volgende ruk deur al die emosies van skok, ontkenning, angs, aggressie en depressie gaan. “Aggressie is ‘n normale deel van ons afskeid.” Maar op die dag wat oom Koos weggeneem is, het baie mense gekies om hul aggressie aan God te gee en gesê, ‘Here, ons is eintlik só kwaad… help ons as ons kwaad is.”

@ 2021 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.


  Visit the official Covid-19 Portal  More Information
Visit the official Covid-19 Portal