On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Die mielieprys het alreeds met bykans 30% gestyg

───   14:11 Thu, 24 Jan 2019

Landbounuus-podcast: Die mielieprys het alreeds met bykans 30% gestyg  | News Article

Die mielieprys het alreeds met bykans 30% gestyg weens die mark wat 'n kleiner mielie-oes verdiskonteer.


'n Landbou-ekonoom, Johan Willemse, sê al is die Oesskattingskomitee se eerste oppervlakte-skatting vir mielies nog nie bekend nie, is daar 'n duidelike konsensus dat Suid-Afrika se verwagte mielie-oes inderdaad kleiner gaan wees teenoor verlede jaar se oes.


Hy sê daarmee saam gaan geelmielies ingevoer  word weens ongunstige plant-toestande, veral in die westelike produksie-streek, terwyl die prys van witmielies gestyg het weens 'n kleiner beskikbare voorraad daarvan - wat vinnig  opgebruik gaan word. Volgens hom is dit 'n interessante situasie veral omdat bykans twee miljoen ton witmielies die afgelope jaar in veevoer gebruik is. 


Willemse sê met berigte dat die eerste ingevoerde vrag geelmielies reeds per skip onderweg na Kaapstad is, gaan dit nou goedkoper wees om geelmielies aan die kus in te voer.


Die Oesskattingskomitee se vooruitskatting van die voorlopige oppervlakte vir somergewas-aanplantings, en die sesde produksie skatting vir winter-gewasse, word volgende week bekendgemaak.


Die burgerregteorganisasie, AfriForum, beklemtoon die belangrikheid daarvan dat grondeienaars onmiddelik 'n klag van betreding by die polisie aanhangig maak sodra hul eiendom onwettig deur besetters betree word. AfriForum se Ian Cameron, sê dit is die eerste en belangrikste stap om te neem nadat dié organisasie al hoe meer grondeienaars die afgelope tyd in die hof rondom onwettige grond-grype verteenwoordig het.


Dit kom nadat AfriForum vandeesweek sukses behaal het in die Noord-Gautengse hooggeregshof nadat 'n groep besetters, landbougrond in die De Wildt-gebied in Noordwes onwettig betree het. Dié groep het aangevoer hulle is wettige eienaars, omdat hulle voorheen suksesvol met 'n grondeis daarop was.  Cameron sê in dié geval wou die polisie nie toelaat dat die grondeienaars 'n betredings klag aanhangig maak nie, omdat daar aangevoer is - dit is 'n siviele kwessie wat deur die howe beslis moet word.  Cameron sê die polisie is nou  verplig om die grond grypers te verwyder.

Intussen sê die polisie in die Vrystaat dat klagte van betreding ondersoek word nadat twee afsonderlike voorvalle van grondgrype onlangs in Arlington en Petrus Steyn plaasgevind het.

Polisiewoordvoerder, Zweli Mohobeleli, sê 'n groep mense het in Arlington - hutte begin oprig, terwyl nog 'n groep mense in Petrus Steyn erwe begin uitlê het. Hy sê daar was al voorheen soortgelyke voorvalle op landbougrond in die Oos-Vrystaat, maar geen voorvalle is onlangs aangemeld nie. Hy doen 'n beroep op boere om nie die gereg in hul eie hande te neem wanneer besettings op landbougrond plaasvind nie, maar die polisie moet eerder in kennis gestel word.  


OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.