On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-bulletin 11:00 15 Maart 2019

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 12:08 Fri, 15 Mar 2019

Landbounuus-bulletin 11:00 15 Maart 2019 | News Article

Agri SA eis dat die ANC in die Noord-Kaap 'n onteieningslys onmiddellik herroep.

Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur, sê die lys wat op sosiale media versprei word, is 'n ernstige kwessie en dié organisasie veroordeel die regerende partyin die Noord-Kaap se optrede ten sterkste. 

Hy sê Agri SA gaan die diplomatieke gemeenskap betrek oor die ANC se ommekeer oor hul verklaarde posisie dat hulle nie produktiewe landbougrond sal teiken nie. 

Op dié lys word landbouers se boerderye se name, die gebied waar dit geleë is, hul boerederyvertakkings en landbougrond in hulle besit, aangedui. 

EN

Die parlementêre ad hoc-komitee, wat verantwoordelik is vir wetgewing ten opsigte van die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet, wat grondonteiening sonder vergoeding moontlik maak, het sy voorlopige verslag afgehandel. Dit sal in die komende week aan die Nasionale Vergadering (NV) voorgelê word. Die komitee het vandeesweek sy laaste vergadering in die bestaande parlementêre termyn gehou. 

Dié komitee se voorsitter, Thoko Didiza, het in die verslag gesê dat die komitee se werk nie in die bestaande parlementêre termyn afgehandel is nie.  Didiza, 'n senior ANC-LP en voormalige minister van landbou, het aanbeveel dat die nuwe parlement die verslag ná die Mei verkiesing moet finaliseer. 

EN

Die wolmark het vandeesweek in Port Elizabeth in die Oos-Kaap op die nasionale veiling laer verhandel en teen 'n prys van R214,42 per kg gesluit. Operasionele bestuurder van vesel by OVK, Heinrich Victor, sê die rand het ook verder teruggesak teen die vernaamste geldeenhede. 

 Hy sê die prys van wol het gedaal weens 'n gebrek aan kompetisie omdat daar 'n verbod is op die uitvoer van Suid-Afrikaanse wol na China weens die bek-en-klouseer uitbraak in Limpopo in Januarie vanjaar. 

Hoewel die aanbod vandeesweek uit goeie gehalte lang, fyn merinowol bestaan het, was die mark steeds, weens dié verbod onder druk. Daarmee saam is korter wol meer onder druk, omdat kopers strenger keuses moet maak in die bestaande markomgewing. 

Volgens Victor het die wisselkoers met die rand, wat ten tyde van dié veiling verswak het, daartoe bygedra dat die daling in die wolprys nie so groot was nie.   

OFM nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.