On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: VL sê toepassing van Lesotho grensbeheer belangrik

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 12:00 Tue, 04 Jun 2019

Landbounuus-podcast: VL sê toepassing van Lesotho grensbeheer belangrik | News Article
Maseru grenspos

Die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat se veeartsenykunde dienste doen 'n ernstige beroep op die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) om die Lesotho-grenspos meer te patrolleer.


Dit kom nadat miltsiekte in Lesotho naby Maseru uitgebreek het. Die departement se woordvoerder, Zimasa Leputla, sê daar moet meer patrollies gedoen word en dit is belangrik dat die beweging van diere, veral vanuit die buurland, langs die grenspos goed gemonitor word. Miltsiekte raak mense en warmbloedige diere. Dit word deur 'n sekere bakterie veroorsaak. Leputla sê diere word besmet wanneer hulle besmette plantmateriaal en selfs water inneem. Bloed van 'n dier wat weens miltsiekte vrek, bevat miljoene van dié bakterieë. Spore word gevorm wanneer besmette liggaamsvloeistof met suurstof in aanraking kom en daarom moet 'n besmette karkas nooit oopgesny word nie. 'n Verbod is op die invoer van lewende hawe en produkte van dié diere, soos wol, vanuit Lesotho na Suid-Afrika ingestel. Veral boere in die omliggende dele moet hul beeste, skape en bokke teen miltsiekte inent as hulle dit nog nie gedoen het nie.

Intussen sê Vrystaat Landbou (VL) se president Francois Wilken die toepassing van grensbeheer is deurlopend noodsaaklik, want veediefstal en diere van Lesotho wat onwettig in Suid-Afrika wei, is 'n groot uitdaging.  Hy sê 'n verbod  op die invoer van vee en wol vanuit Lesotho na Suid-Afrika is nie die antwoord nie.  Die polisie en die departement van landbou in die provinsie moet die nodige skutte vir gesteelde vee wat teruggevind is in plek stel, want die meeste vee word nie deur wettige toegangsroetes of grensposte na Suid-Afrika gebring nie.

EN

'n Slagoffer van 'n wrede plaasaanval in Hankey in die Oos-Kaap verlede jaar sal na verwagting vandag die gruwelike besonderhede van die voorval in die openbaar deel. Die vrou, wie se identiteit deur 'n hofbevel beskerm word, het reeds in die Hooggeregshof in Port Elizabeth getuig in die verhoor van die 32-jarige Sibenzile Simane, wat tereg staan op aanklagte van poging tot moord en verkragting met betrekking tot haar aanval. Simane het onskuldig gepleit op 'n reeks ander aanklagte, wat onder meer ontvoering en die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie insluit. AfriForum se adjunk-uitvoerende hoof, Ernst Roets, sê dié slagoffer gaan op dié burgerregte-organisasie se mediakonferensie haar storie deel. In die jongste plaasaanval Sondagaand is Stefan Smit, die eienaar van die wynlandgoed Louisenhof, naby Stellenbosch in die Wes-Kaap, koelbloedig in sy plaashuis doodgeskiet. Polisiewoordvoerder, Andrè Traut, sê die polisie ondersoek 'n klag van moord en huisroof en vier aanvallers word gesoek. Hy sê gewapende aanvallers het vermoedelik toegang tot die huis verkry nadat 'n deur nie gesluit was nie. Smit se vrou en 'n vriend was in die huis, maar is ongedeerd.



OFM-nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.