On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Landelike veiligheidstrategie moet in plek gestel word

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:45 Thu, 06 Jun 2019

Landbounuus-podcast: Landelike veiligheidstrategie moet in plek gestel word | News Article

Die landelike veiligheidstrategie moet nou op nasionale vlak afgeteken en in plek gestel word.


Jannie Strydom, die uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê sodra dit gedoen is, sal Suid-Afrika al ver gevorder het ten opsigte van veiligheid op plase en kleinhoewes in die land.  Hy sê daar is 'n goeie samewerkingsverhouding tussen dié organisasie en die Wes-Kaapse departement van landbou om die onlangse vlaag moorde en aanvalle op boere in die provinsie daadwerklik aan te spreek. Volgens hom het die LUR van landbou, Ivan Meyer, Maandag in 'n vergadering met betrokkenes in Stellenbosch 'n opsomming gemaak van die probleme rondom dié aanvalle. Hy het onder meer gesê onmiddelike stappe moet gedoen word om landelike veiligheid in dié provinsie op te skerp. Daar moet onder meer 'n landelike veiligheidseenheid en 'n intelligensiesentrum op die been gebring word. Nou samewerking met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is nodig, en verdagtes in plaasmoorde moet nie op borgtog vrygelaat word nie. Strydom sê 'n opvolgvergadering vind nou in dié verband plaas.

Dit kom nadat Stefan Smit van die plaas Louisenhof by Stellenbosch Sondag deur vier aanvallers in sy huis doodgeskiet is. Tool Wessels van Bonnievale, ook in die Wes-Kaap, is in Mei vermoor.


Oos-Kaapse plaasaanval

'n Voormalige Hankey-plaaswerker, wat skuldig bevind is aan 16 aanklagte wat verband hou met 'n wrede aanval op 'n Oos-Kaapse ma van drie, is lewenslange tronkstraf met 'n bykomende 173 jaar opgelê. Sebenzile Simane is in die Hooggeregshof in Port Elizabeth skuldig bevind aan onder meer die verkragting van 'n vrou voor haar kinders. Hy het dié vrou ook geskiet. Ander aanklagte waarop hy skuldig bevind is, sluit in poging tot moord en deur sy toedoen moes kinders 'n seksuele misdryf aanskou. Hy is ook skuldig bevind aan 'n 17de aanklag wat verband hou met 'n rooftog in Patensie voor die plaasaanval. Die slagoffer het Donderdag aan joernaliste gesê sy is baie gelukkig oor die bevinding, maar Simane het geen berou getoon nie.


Ekonomiese inkrimping

Suid-Afrika benodig ekonomiese groei en enige inkrimping in die bruto binnelandse produk is nie goeie nuus nie, maar dit moet in ag geneem word dat produksie veral in terme van landbou op 'n kwartaallikse grondslag van mekaar verskil. So sê Frikkie Maré, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), nadat Statistieke Suid-Afrika (SSA) vandeesweek aangedui het dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) vir die eerste kwartaal op 'n kwartaalgrondslag met 3,1% ingekrimp het. Hy sê die landboubedryf se inkrimping met 13,2% op 'n kwartaalgrondslag kan toegeskryf word aan landbouproduksie wat afgeneem het weens verskillende seisoene. Volgens hom moet 'n vergelyking op 'n jaargrondslag getref word, en al het die landboubedryf  op 'n jaar-tot-jaar grondslag met meer as 9% ingekrimp, moet verskeie faktore soos die prys van rooivleis in ag geneem word. 

Hy sê landbou in die algemeen en landbouprodukpryse is onder druk, maar daar is lig aan die einde van die tonnel - veral met die oesskatting vir mielies en rooivleispryse wat in die tweede kwartaal ietwat verbeter het. 

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.