On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbou-potgooi: Nie genoeg geelmielies vir plaaslike gebruik in SA nie

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:12 Fri, 28 Jun 2019

Landbou-potgooi:  Nie genoeg geelmielies vir plaaslike gebruik in SA nie | News Article

Daar is genoeg witmielievoorraad vir plaaslike gebruik in Suid-Afrika, maar meer geelmielies gaan na verwagting ingevoer moet word.


Dit is volgens 'n landbou-ekonoom, Johan Willemse in reaksie op die Nasionale Oesskattingskomitee se vyfde produksieskatting vir somergewasse wat vandeesweek bekendgemaak is. 

Die vooruitskatting vir witmielies is op 5,4 miljoen ton onveranderd gelaat teenoor die vorige skatting, terwyl die skatting van geelmielies op meer as 5,4 miljoen ton, sowat 0,60% meer is as die vorige skatting.  

Die oppervlakte onder witmielies is 1,298 miljoen hektaar en 1,002 miljoen hektaar is onder geelmielies. Willemse sê witmielie-opbrengs is beter as wat aanvanklik verwag is, omdat dit later as gewoonlik geryp het weens laat reëns. 

Hy sê egter die algehele persepsie dat daar genoeg mielievoorraad vir binnelandse gebruik is, is nie heeltemal korrek nie.  

Die verwagte kommersiële mielie-oes is 10,9 miljoen ton wat 0,3% meer as die vorige skatting is, maar 13% kleiner as verlede jaar se oes is.

EN 

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief, Saai, het as belanghebbende toegetree om mynboubedrywighede in Mpumalanga teen te staan. 

Saai se uitvoerende hoof, Francois Rossouw, sê dié landboubelangenetwerk, gaan Manzolwandle Investments se aansoek om steenkool op sowat 18 000 hektaar naby Komatipoort en die Nasionale Krugerwildtuin te ontgin teenstaan, omdat dié teikengebied hoofsaaklik uit besproeiingsgrond bestaan. 

Gewasse word geproduseer wat vir die uitvoermark bestem is. Hy sê hoë-intensiteit boerderye, wat werk aan 'n groot hoeveelheid werkersnemers verskaf, is veel meer volhoubaar as dié beoogde steenkoolmyn. Volgens hom moet die skade aan die watertafel, ekologie en toerisme, opgeweeg word teen die huidige landboubedrywighede, wat vir ’n onbepaalde tydperk ’n groeiende inkomste van meer as R100 000 per hektaar per jaar ná uitgawes kan oplewer. 

Saai het sy aansoek om as belanghebbende te registreer op 25 Junie 2019 ingedien. 

EN

Die Afrikaanse Handelsinstituut, oftewel die AHi, en Agri Wes-Kaap gaan na verwagting volgende week vergader om die implementering van 'n aksieplan saam te stel. 

Dit kom nadat georganiseerde landbou in die provinsie by die AHi se 46 sakekamers gaan inskakel in 'n poging om ekonomiese groei in plattelandse dorpe te bewerkstellig. Volgens AHi se voorsitter in die Wes-Kaap, Willie Cilliers is nouer skakeling met die landbou en landbouverenigings in dorpe oor die provinsie heen noodsaaklik. 


OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.