Agriculture
Landbounuus-podcast: Boere moet voortgaan asof grondpaneelverslag nie bestaan nie - Saai─── 17:50 Wed, 31 Jul 2019
Suid-Afrikaanse boere moet voortgaan om te boer asof daar nie 'n grondpaneelverslag met sekere kwellende aanbevelings oor grondhervorming en landbou bestaan nie.
Daar is genoeg innovering en welwillendheid onder boere om 'n plan te maak. Dit is volgens Theo de Jager van die Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief, Saai, in reaksie op die presidensiële paneelverslag wat onder meer 'n grondwetlike verandering voorstel wat onteiening sonder vergoeding onder sekere omstandighede moontlik maak. Grondbelasting vir boere, geen transportaktes in kommunale gebiede, staatseienaarskap van aangekoopte grond, en grondplafonne word ook voorgestel. De Jager sê dit is verstaanbaar dat boere bekommerd is oor die verslag, maar die einde is nog nie in sig nie. Hy sê boere se roeping is om kos en vesel volhoubaar en winsgewend te produseer en hulle moet van die geleenthede wat nou beskikbaar is, gebruik om verder uit te brei.
Grondonteiening sonder vergoeding kan rampspoedig wees vir Suid-Afrika en kan selfs groter nagevolge vir die ekonomie inhou as wat Zimbabwe destyds weens radikale grondbesettings ervaar het. Dit is volgens André Duvenhage, 'n politieke ontleder van die Noordwes Universiteit (NWU), wat meen Zimbabwe is beslis 'n goeie voorbeeld van die mislukking van roekelose grondhervorming weens die voormalige president, Robert Mugabe, se toedoen. Duvenhage glo ook die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou se verslag stuur verkeerde seine na die buiteland, veral nou wanneer Suid-Afrika grootliks op internasionale investering staatmaak. Hy meen hoewel Suid-Afrika en Zimbabwe verskil, kan daar wel sekere vergelykings met betrekking tot grondonteiening getref word. Duvenhage meen die effek van roekelose grondhervorming gaan nie slegs die Suid-Afrikaanse ekonomie raak nie.
EN
China, een van Suid-Afrika se voorkeurbestemmings vir die uitvoer van beesvleis, -huide en wol, se opheffing van die verbod op die invoer van gesplete hoefdiere en hul produkte, was geskoei op bestaande goeie handelsbande tussen dié twee lande. Lin Songtian, ambassadeur van China in Suid-Afrika, het vandeesweek tydens 'n mediakonferensie in Pretoria gesê China bly verbind tot pres. Cyril Ramaphosa se pogings om Suid-Afrika se ekonomie 'n hupstoot te gee en werk te skep. China het vroeër in Julie sy verbod op die uitvoer van gesplete hoefdiere en hul produkte van Suid-Afrika opgehef - met Limpopo, Ehlanzeni in Mpumalanga en 'n deel van KwaZulu-Natal as uitsondering. Dit kom nadat die Wêreld Dieregesondheidsorganisasie (OIE), Suid-Afrika se bek-en-klouseer-vrye status tydelik opgeskort het nadat bek-en-klouseer in Januarie in Limpopo uitgebreek het.
OFM-nuus
