Agriculture
Landbounuus-podcast: Verskuilde probleme met renosterweeshuise─── 14:26 Wed, 28 Aug 2019
Renosterweeshuise is van kritieke belang om renosterkalfies te versorg, wat wees gelaat is weens stropery.
Daar is egter verskuilde probleme en gevare daaraan verbonde. Só meen Hennie Butler van die Departement Dierkunde en Entomologie by die Universiteit van die Vrystaat (UV). Hoewel dié weeshuise noodsaaklik is, is een van die uitdagings dat mense met die bedreigde spesie in kontak is. Dit beteken dié kalfies raak gewoond aan mense, wat dan juis problematies word wanneer die renosters weer vrygelaat word in die natuur. Hy sê nog 'n gevaar, waarvan mense nie bewus is nie, sluit in die moontlikheid dat booswigte hulle in die weeshuise kan teiken. Butler het vandeesweek aan 'n bespreking oor renosterbewaring by die UV se Bloemfontein-kampus deelgeneem.
Agri Noord-Kaap is in die proses om 'n interne oudit van ontwikkelingsprojekte in die provinsie te doen. Dit in 'n poging om voort te bou op suksesvolle projekte, maar ook om te bepaal waar daar ruimte vir verbetering is met betrekking tot minder suksesvolle projekte. Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê daar is talle bestaande projekte waarby bedryfsorganisasies in dié provinsie betrokke is, wat goed op dreef is. Agri Noord-Kaap fasiliteer die projekte en probeer dit bestuur sodat meer volhoubare projekte op die been gebring kan word. Hy sê om daarby aan te sluit gaan 'n opkomende boer, Solly Leshabo, sy ervaring deel op dié organisasie se jaarkongres, wat in Kimberley onderweg is. Jansen sê Agri Noord-Kaap is nie die enigste dryfveer agter bestaande ontwikkelingsprojekte in die provinsie nie. Agri Noord-Kaap se kongres duur tot Donderdag.
EN
Die risiko vir wegholveldbrande in die sentrale binneland is vandeesmaand hoog met droë toestande en sterk wind wat voorkom. Juis daarom rig die provinsiale Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling 'n pleidooi aan boere, plaasbewoners en motoriste om waaksaam te wees gedurende die veldbrandseisoen. Die departement se woordvoerder, Phemelo Manankong, sê wegholveldbrande hou jaarliks rampspoedige gevolge in vir die landboubedryf met diere, eiendomme en natuurlike weiding wat in die slag gebly het. Daar is ook gevalle van lewensverlies. Manankong sê sowat 60 000 hektaar weiveld is verlede jaar slegs in die Boshof-distrik deur wegholbrande verwoes. Klimaatstoestande is nou juis gunstig vir veldbrande. Manankong sê brande moet by munisipaliteite, die brandweer asook die polisie in die onderskeie distrikte in die provinsie aangemeld word. Boere moet ook nou betrokke wees by hul onderskeie brandbestrydingsverenigings.
OFM-nuus/Christal-Lize Muller en Vernon Baumann
