Agriculture
Landbounuus-podcast: Stroopproses ver gevorderd vir wit-en geelmielies─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:25 Mon, 02 Sep 2019
Die stroopproses is al ver gevorderd vir wit- en geelmielies onderskeidelik in die oostelike en westelike deel van die land, maar weens die laat seisoen is produsente in die noordwestelike deel van die Vrystaat en dele van Noordwes steeds agter.
'n Landbou-ekonoom van Graan SA (GSA), Luan van der Walt, sê in die oostelike deel van die land is 94% van die oes gelewer, terwyl slegs 79% van die oes in die westelike deel gelewer is. Dít word toegeskryf aan laat reën en droogtetoestande. Hy sê aanplantings in die oostelike deel van die land vir die nuwe seisoen gaan afhang van grondvog en reën. In die westelike deel van die land, waar die stroopproses agter is, behoort produsente na verwagting in die komende weke klaar te stroop. Van der Walt sê die feit dat die stroopproses later is as vorige seisoene gaan nie 'n groot invloed op aanplantings hê nie.
Intussen sê Wandile Sihlobo, hoof-ekonoom van die Landboubesigheidskamer, Agbiz, daar is rede vir hoop vir Suid-Afrika se landbouproduksie in 2020. Dit kom veral nadat daar aanvanklik rede was vir kommer oor die swak somergraanoes ná die voortslepende droogte. Sihlobo meen die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het onlangs positiewe inligting vrygestel rondom toekomstige weervooruitsigte. Dit is bemoedigende nuus vir boere wat dan met aanplantings van hul somergewasse begin. Volgens die SAWD kan die sentrale en oostelike deel van die land tussen November vanjaar en Januarie 2020 bo-normale reënval ontvang. Die weervoortuisigte vir die noordwestelike streek is in die stadium onduidelik, maar die verwagting is dat normale reënval kan voorkom.
Agri Noord-Kaap, onder die vaandel van Agri SA, is toegewyd tot die teenkanting van die voorgestelde grondwetwysiging en meer spesifiek Artikel 25 wat voorsiening maak vir grondonteiening sonder vergoeding. Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, wat ook die voorsitter van ekonomie en handel by Agri SA is, sê daar word proaktief opgetree deur dié organisasie, maar dit moet in ag geneem word dat die howe nie genader kan word in dié verband woordat daar nog nie iets konkreet op die tafel is met betrekking tot die grondwetwysiging nie. Hy sê daar is nog nie bewoording vir 'n potensiële wysiging in plek nie daarom kan daar nie van Agri SA verwag word om die howe te nader voordat daar nie 'n fundamentele grondslag daarvoor is nie.
EN
Die Nasionale Tesourie se nuwe beleidsdokument om ekonomiese groei in Suid-Afrika op dreef te kry kan hopelik die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) laat herleef. Dit is al byna 'n dekade lank in plek en het nie werklik resultate gelewer nie. Dit is volgens Agri SA se uitvoerende direkteur, Omri van Zyl, nadat tesourie verlede week dié dokument bekendgemaak het. Van Zyl sê Agri SA verwelkom die fokus op landbou in dié dokument as 'n bedryf wat ekonomiese groei, transformasie en werkskepping in die land vorentoe kan neem. Die verwagting in die dokument is dat Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers in die volgende dekade met 2,3% per jaar kan toeneem. Daarmee saam kan meer as 'n miljoen bykomende werkgeleenthede geskep word.
OFM-nuus
