On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: African Livestock Trade Fair vind volgende week in Parys plaas

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 15:37 Wed, 11 Sep 2019

Landbounuus-podcast: African Livestock Trade Fair vind volgende week in Parys plaas | News Article

Die jaarlikse African Livestock Trade Fair, oftewel Alfa, word volgende week by die Afridome in Parys in die Vrystaat vir die vierde keer aangebied.


'n Organiseerder, Albert Loubser, sê dié vee-gefokusde bedryfsgeleentheid vir boere en ander betrokkenes is beslis 'n hoogtepunt op dié lewendehawe-bedryf se kalender. Alfa 2019 begin Dinsdag en duur tot Donderdag. Loubser sê die propvol program bestaan uit 'n vee-, handel-, verbruikers-, sosiale - en meer spesifiek 'n jeug-komponent. Een van die hoogtepunte op die Alfa-ekspo is die aankondiging van die nasionale kuilvoerkoning. Daarmee saam word die wenners in die kategorieë mielie-, voersorghum- en hawerkuilvoer ook op die Alfa-dinee aangekondig.  Loubser sê die finaliste vir die jaarlikse Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie is pas aangewys ná 'n uitgebreide proses waar kuilvoermonsters by 89 kuilvoerbanke op 72 plase geneem is.  

Sowat 90% van die tien grootste kommersiële grondeienaars in Noordwes is in die besit van trusts. Die inligting het aan die lig gekom ná 'n versoek van 'n EFF LP, Patrick Sindane, in die Parlement dat die Nasionale Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling 'n lys van die grootste eienaars van grond in elke provinsie in die land moet saamstel. Die departement het die name daarna bekendgemaak. Die Linda Trust, Pieter Ernest Familietrust en Wolverand Trust is in Noordwes. Ander kommersiële grondeienaars, wat ook op dié lys is, sluit in Bluebird Farm en die Klipkop Boerdery Familietrust. Die departement het ook bekend gemaak dat daar nie ‘n rekord is van waarvoor die grond gebruik word nie.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is weer op dreef in terme wan aanplantings nadat dit die afgelope dekade onder baie druk was. Só sê die besturende direkteur van Vinpro, Rico Basson, wat verlede week aan die Nasie in Gesprek-paneelbespreking op Graan SA (GSA) se Nampo-Kaap deelgeneem het. Theo Vorster van Galileo Capital het dié sessie gelei. Volgens Basson is daar in Suid-Afrika sowat 95 000 hektaar onder wingerde en hoewel die wynbedryf onder druk was weens internasionale oorproduksie en lae pryse, is daar 'n aanduiding van meer plaaslike aanplantings. Hy sê lae pryse het daartoe bygedra dat wingerde met sitrus en neut-aanplantings vervang is en droogtes in die vernaamste produksiestreke het tot 'n 15%-daling in wynproduksie gelei. Basson sê die opbrengs op kapitaal in die wynbedryf is sowat 2%, terwyl dié bedryf baie buitelandse valuta verdien.    

EN

Malawi se plaaslike sojaboonproduksie het 'n verdere hupstoot gekry nadat die Clinton-stigting sy vennootskap met Africa Improved Foods (AIF) uitgebrei het om sojabone by plaaslike boere te bekom. Dié stigting is sedert 2006 betrokke in Malawi, Rwanda en Tanzanië om die verbouing van sojabone, wat 'n alternatief vir tradisonele kontant-gewasse soos tabak is, te verhoog. Dié stigting in Malawi kon nie 'n betroubare mark kry vir hoë gehalte produksie deur boere nie, terwyl AIF nie genoeg plaaslik geproduseerde sojabone in Rwanda gekry het nie. Prosper Nday-ira-gije, bestuurder van AIF, sê dié stigting en boerederygemeenskappe in Malawi het sover baie bereik. In slegs vier maande het AIF 997 ton sojabone aangekoop wat deur die Clinton-stigting se boere in Malawi geproduseer is.

 

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.