Agriculture
Landbounuus-podcast: Boere se betrokkenheid 'belangrik om veediefstal te bekamp'─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:52 Thu, 26 Sep 2019
Veeboere se betrokkenheid is van groot belang om veediefstal in Suid-Afrika te bekamp.
Willie Clack, voorsitter van die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum, sê boere moet op plaaslike vlak betrokke raak, want dit is die enigste oplossing om die toename in veediefstal te voorkom en is dus van kernbelang. Hy sê nóg noodsaaklike praktiese wenke sluit in die merk van vee, wat ook gereeld getel moet word. Boere moet ook gebruik maak van Artikel 8-sertifikate indien vee vervoer word. Artikel 6-sertifikate moet ingevolge die Wet op Veediefstal uitgereik word vir diere wat verkoop word.
Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se openbare konsultasiewerksessies rakende die Wetsontwerp op veevoer, troeteldierkos, en kunsmis, begin vandag in Potchefstroom. Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, sê veevoer en kunsmisstowwe in Suid-Afrika word gereguleer ingevolge die Wet op Misstowwe, Plaasvoere, Landbou- en voorraadmiddels van 1947. Daar was egter sedertdien verskeie veranderings in terme van veevoer, kunsmisstowwe en die bewerking daarvan, en daarom vind 'n hersiening van die regulatoriese raamwerk plaas. Wysigings sluit in die lisensiëring van vervaardigingsgeriewe. Hy sê daar moet wegbeweeg word van die bestaande model van voorafgoedkeuring van alle veevoerprodukte. Veevoer wat op kommersiële plase vervaardig word, moet nou gereguleer word. Die eerste sessie is vandag om 15:30 in die Alex Holm-saal by die Potchefstroomse landboukollege.
EN
Organiseerders van die Bloemskou het die datum bekendgemaak van wanneer dié gewilde skou volgende jaar gaan plaasvind. Elmarie Prinsloo, die uitvoerende hoof, sê dit vind aanstaande jaar vanaf 24 April tot 2 Mei in Bloemfontein plaas, met die tema "Welcome to the Jungle". Volgens haar is Bloemskou een van die twee grootstes in die land met meer as 100 000 besoekers wat jaarliks deur die toegangshekke stroom. Dit is ook 'n hoogtepunt op die landbou-kalender as gasheer vir die grootste opelug-saalperdskou in die wêreld. Net minder as 'n duisend perde en talle afgevaardigdes van Amerika is jaarliks betrokke. Prinsloo sê daar is ook jaarliks 23 verskillende landboukampioenskappe vir perde, beeste en kleinvee. Dit kom neer op meer as 5 000 diere wat in dié tydperk gehuisves word. Die skou fokus ook op verskeie stoetvee-kampioenskappe.
OFM-nuus
