Agriculture
Landbounuus-podcast: NK beplan om Mabuza-besoek ten volle te benut─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:25 Thu, 03 Oct 2019
Georganiseerde landbou in die Noord-Kaap en ander betrokkenes gaan 'n nasionale afvaardiging van die regering se besoek aan dié droogtegeteisterde provinsie ten volle benut.
Dit is volgens Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, in aanloop tot adjunkpresident, David Mabuza, en die minister van landbou, Thoko Didiza, se besoek Vrydag aan die Aggeneys-distrik naby Springbok in die Namakwa-distrik. Jansen sê die omvang van die droogte moet beklemtoon word. Hy sê Agri Noord-Kaap wil ook ramphulpverlening en die trae proses daarvan deur die regering aanraak. Jansen sê in terme van die geldwaarde van die droogteramphulp wat benodig word, ondersteun dié organisasie die provinsiale landboudepartement se vroeë waarskuwingsverslag. Daarvolgens word sowat R425 miljoen na raming in die komende drie maande vir ramphulp benodig.
Dit is nou uiters noodsaaklik dat droogterampverklaring van die Noord-Kaap nou in die Staatskoerant aangekondig word sodat geldelike hulp vanaf die regering aan boere verleen kan word. Só sê die provinsiale woordvoerder van die DA vir landbou, grondhervorming, landelike ontwikkeling en natuurbewaring, Reinette Liebenberg, in reaksie op adjunkpresident, David Mabuza, en die minister van landbou, Thoko Didiza, se besoek Vrydag aan Aggeneys naby Springbok. Liebenberg sê die regering op nasionale vlak moet self die effek wat die droogte op boere en die provinsie se ekonomie het, beleef. Sy sê die DA het vroeër vanjaar dit al beklemtoon dat dié provinsie as 'n nasionale rampgebied verklaar moet word, omdat die voortslepende droogte 'n bedreiging inhou vir die verlies van werksgeleenthede in die provinsie.
EN
Die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in Noordwes se fokus met die herdenking van Wêreldvoedseldag vandeesmaand, is op volhoubare projekte wat deur die departement gelewer word. Die provinsiale woordvoerder, Emelda Setlhako, sê dit is juis die departement se fokus, weens die land se trae ekonomiese groei, gekombineer met droogtetoestande, wat 'n invloed op die landboubedryf het. Volgens Setlhako gaan gemeenskappe tydens die vieringe ook aangemoedig word om met aanplantings te begin op grond wat braak lê, sodat voedselproduksie verhoog kan word. Armoede, honger en wanvoeding in die provinsie kan sodoende aangespreek word. Wêreldvoedseldag word jaarliks op 16 Oktober herdenk om die uitdaging van hongerte oor die wêreld heen te takel. Die LUR van Landbou in Noordwes, Desbo Mohono, lei vanjaar die provinsiale herdenking op 11 Oktober in Ntswana Le Metsing, in die dorpie Magong by Rustenburg.
OFM-nuus
