Agriculture
Landbounuus-podcast: Regering verbind hom tot NK droogtehulp─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:54 Mon, 07 Oct 2019
Die regering het hom nou daartoe verbind om dringende hulp, as 'n tydelike, korttermynmaatreël, aan boere in die droogtegeteisterde Noord-Kaap te verleen.
Adjunkpresident, David Mabuza, het tydens 'n besoek aan Aggeneys naby Springbok, in die Khai Ma plaaslike munisipaliteit verlede Vrydag, aangekondig die regering gaan onmiddellik sowat R30 miljoen herprioritiseer vir die verkryging en verspreiding van veevoer. Mabuza het ook gesê die regering sal hulp verleen vir die produksie van veevoer om die huidige vermoë van 'n voerbank, wat deur die provinsie gevestig is, te verhoog. Die regering gaan ook met die Landbank saamwerk om verligting te bied vir wanbetalende boere wat deur die droogte geraak word. Mabuza het verder gesê die regering is gelas om die vermoë van watervoorsiening te vergroot, met meer boorgate wat deur die Departement van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie geboor gaan word.
Die vrag met Suid-Afrikaanse skape, wat na Kuwait op die Al Shuwaikh-vragskip onderweg is, sluit skape in wat van opkomende en bestaansboere in die Oos-Kaap afkomstig is. Dit is volgens die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, wat Maandag buite Bloemfontein op die African Farmers Association of South Africa, Afasa, se agribesigheid-transformasiekongres gepraat het. Volgens Didiza is dit belangrik dat handelsbande met verskeie lande oor die wêreld heen gevorm en verder ontwikkel word. Didiza sê die regering het die situasie op dié vragskip, wat betref die welsyn van die skape, ondersoek voordat die skip vanaf Oos-Londen vertrek het.
EN
Intussen het die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV)aangedui hy gaan regstappe doen oor die omstrede uitvoer van bykans 51 000 skape wat vir die Midde-Ooste bestem is. Dié skape word deur die invoeronderneming van die Midde-Ooste, Al Mawashi, aan boord die Al-Shuwaikh vragskip na Kuwait vir slagdoeleindes vervoer. Die NDBV se eenheidbestuurder van die beskerming van plaasdiere, Grace de Lange, het aan OFM-nuus gesê met betrekking tot dié vragskip word die Wet op Dierebeskerming van 1962 oortree. Sy sê daar was ook sekere vereistes waaraan daar nie voldoen is tydens die NDBV se besoek aan die voerkraal, waar die skape gehou is. Die NDBV gaan regstappe kragtens die dierebeskermingswet teen die regering, en die Oos-Kaapse provinsiale regering, neem. Klagte van dieremishandeling gaan ook aanhagig gemaak word teen dié invoermaatskappy.
OFM-nuus
