Agriculture
Landbounuus-podcast: Dept beloof droogtehulp aan alle sukkelende boere─── CHRISTAL-LIZE MULLER 16:51 Fri, 25 Oct 2019

Die Departement van Landbou in die Noord-Kaap gaan droogtehulp verleen aan alle individuele boere wat dit benodig - en nie slegs aan opkomende boere nie.
Dit is volgens die Noord-Kaapse LUR, Nomandla Bloem, wat Donderdag 'n geleentheid waar veevoer aan opkomende boere van die Richie-distrik by die departement se navorsingstasie, bygewoon het. Sowat R60 000 se veevoer is vir dié doeleindes ingesamel om aan dié boere, en boere by Prieska in die Pixley Ka Seme distrik uit te deel. Die veevoerverspreiding vorm deel van die departement se implementeringsplan vir droogtehulp, wat onlangs deur Bloem aangekondig is. Daarmee saam het die departement ook 'n bestaande droogteverligtingsprogram, waar lusern en mielies aangeplant word en in die departement se voerbanke geberg word. Bloem het aan OFM gesê die departement sal nie kommersiële boere, wat ook geraak word deur die droogtetoestande, agterweë laat nie. Beskikbare veevoer sal eweredig verdeel word. Benewens veevoer wat self deur die regering voorsien word is R30 miljoen ook beskikbaar gestel om onmiddelike droogtehulp te verleen en veevoer aan te koop. Nog veevoer sal na verwagting vanaf Maandag na onder meer, Van Zylsrus, Postmasburg en Groenwater versprei word.
Plaaslike navorsing oor die waarde van turksvyplante as 'n alternatief vir veevoerverbouing vorder goed. 'n Navorser van die Landbounavorsingsraad (LNR),dr. Herman Fouché, sê hy is deel van 'n span kundiges by die Universiteit van die Vrystaat (UV), wat onder meer die bewaring van dié genebron en die aanpasbaarheid van dié plante in verskillende gebiede, navors. Hy sê die verbouing van turksvy-plante as 'n alternatiewe bron vir veevoer vorm deel daarvan. Volgens hom het turksvy-verbouing in die afgelope paar jaar gewild geraak onder boere in Suid-Afrika wat begin het om boorde aan te plant. Hy sê turksvy-blaaie kan by die LNR bekom word.
EN
Kommersiële produsente in somerproduksiegebiede beplan om in die 2020-seisoen 'n totaal van 2,5 miljoen hektaar mielies aan te plant. Dit is volgens 'n opname deur die Department van Landbou se Direktoraat, Statistiek en Ekonomiese Analise wat toon dié voorneme is 9,51% meer as die 2,3 miljoen hektaar aangeplante mielies die vorige seisoen. Daarmee saam toon dié opname, wat die situasie in die bedryf weerspieël soos teen middel Oktober, dat produsente beplan om 1,43 miljoen hektaar witmielies aan te plant. Dit is 10,28% meer as die vorige seisoen. Die verwagte aanplantings vir geelmielies is op 1,087 miljoen hektaar, meer as 8,51% teenoor die vorige seisoen.Die voornemens om sonneblomsaad, sojaboon, en grondbone aan te plant, is ook meer as dié vorige seisoen, maar sorghum- aanplantings toon 'n afname van 14,65% teenoor die vorige seisoen.
OFM-nuus