Agriculture
Landbounuus-podcast: Beraad hou positiewe handelsgeleenthede vir SA in─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:37 Mon, 28 Oct 2019
Die internasionale beraad met Rusland en Afrikalande, wat onlangs plaasgevind het, hou positiewe handelsgeleenthede vir Suid-Afrika in.
Hoof landbou-ekonoom by die Landbousakekamer, Agbiz, Wandile Sihlobo, sê die onderneming deur Afrikalande op dié beraad verlede week in Sochi, Rusland, was om onder meer nou saam te werk in terme van ekonomiese vooruitgang en om handelsbande met Rusland te versterk. Sihlobo meen dit is positief vir Suid-Afrika. Daarmee saam speel Rusland 'n belangrike rol in die landboubedryf as die 13de grootste invoerder van landbouprodukte in die wêreld. Hy sê egter Afrikalande is laer op die lys in terme van markte wat handelstransaksies met Rusland het. Dit kom neer op meer Russiese produkte wat aan Afrikalande verkoop word, as produkte wat deur Rusland aangekoop word. Sihlobo sê in Suid-Afrika se geval is die uitvoer na Rusland positief met onder meer sitrus wat uitgevoer word, maar dié handelsbande kan verbreed word.
Daarmee saam is president Cyril Ramaphosa vol lof vir die beraad tussen Rusland en Afrikalande wat deur meer as 40 Afrika-leiers bygewoon is. Dié beraad het ten doel gehad om bilaterale en multilaterale vlakke van samewerking tussen Rusland en Afrikalande te versterk. Ramaphosa meen die geleentheid vir Suid-Afrikaanse verteenwoordigers om interaktief op te tree, wat betref mynbou en olie-onttrekking, was waardevol.
EN
Die immergewilde Senwes Toekomsfokusdag, wat jaarliks op Nampopark buite Bothaville in die Vrystaat plaasvind, fokus Dinsdag op vyf aspekte wat boere doeltreffend in hul boerderye kan toepas. Die inligtingsdag word vanjaar vir die sestiende jaar agtereenvolgens in samewerking met Agri Noordwes, Vrystaat Landbou en Graan SA aangebied. Die geld wat ingesamel word, is ten bate van Agri Noordwes en Vrystaat Landbou (VL) se jongboerkomitees. Die voorsitter van dié komitee in Noordwes, Louis Wessels, sê alles is slaggereed en boere gaan verseker daarby baat om dit by te woon. Waldo van Niekerk, voorsitter van VL se jongboerkomitee, sê benewens die vyf kernaspekte waarop daar gefokus word, is daar verskeie uitstallers en demonstrasies. 'n Spitbraai word ook gehou en groot pryse is op die spel. Kaartjies is teen R100 per persoon by die ingangshek, wat 08:00 open, beskikbaar.
OFM-nuus
