Agriculture
Landbounuus-podcast: Beleidsuitdagings wag vir regering - ekonoom─── 11:24 Wed, 30 Oct 2019
Daar wag groot beleidsuitdagings vir die regering in terme van werkskepping wat op ekonomiese groei moet volg.
Dit is volgens die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, in aanloop tot die Minister van Finansies, Tito Mboweni, se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) wat hy later vandag in die Parlement lewer. Laubscher, meen daar is al meer druk op die Sentrale Bank, om rentekoerse te laat daal in 'n poging om ekonomiese groei te stimuleer. Daarmee saam gebruik verbruikers dié lae rentekoerse, wat steeds hoog in terme van wêreldstandaarde is, om hoofsaaklik hul skuld te konsolideer. Dit lei gevolglik tot lae en geen groei in verbruikersbesteding nie. Hy sê daarmee saam belemmer stygende werkloosheid enige kollektiewe wil deur verbruikers om meer te koop, terwyl die jongste werkloosheidskoers rekordvlakke bereik het en daar 'n geringe toename in werksgeleenthede in landbou was. Volgens Statistieke Suid-Afrika is die land se werkloosheidsyfer 29,1%. Dit kom daarop neer dat 6,7 miljoen mense in die derde kwartaal vanjaar sonder werk was. Mboweni neem sy plek agter die podium om 14:00 in.
Die beskikbaarstelling van voldoende hulpbronne vir die landboubedryf is nodig sodat dié bedryf se mededingendheid verhoog word. Boere moet ook ondersteuning ontvang, veral in droogtegeteisterde gebiede. Dit is Agri SA se verwagtinge vir die Minister van Finansies, Tito Mboweni, se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) vanmiddag. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid, meen dit is nodig vir landbou om tot werkskepping te kan bydra en om armoede in die land te verlig. Hy glo die balans tussen staatsinkomste en -uitgawes is sentraal tot die regering se begroting, met die afgelope dekade wat deur lae ekonomiese groei en stygende staatskuld gekenmerk is. Verlangsamende groei het die toename in staatskuld versterk.
EN
Daarmee saam sê Wouter Wessels , Vryheidsfront Plus LP en hoofwoordvoerder van finansies, die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) is 'n belangrike geleentheid om bestaande krisisse in die land aan te spreek. Hy meen egter dit gaan nie veel bydra tot die ware probleem van beleidsonsekerheid wat deur die ANC-regering se toedoen is nie. Wessels meen die knellende droogte en toenemende waterskaarsste in die land moet onmiddellike aandag kry. Hy sê geld is nodig vir infrastruktuur soos damme en reservoirs. Boere in droogterampgebiede het ook dringend hulp in die vorm van geldelike ondersteuning nodig.
OFM-nuus
