Agriculture
Landbounuus-podcast: MTBR skets minder positiewe prentjie, meen Agbiz─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:50 Thu, 31 Oct 2019
Daar is verskeie aspekte in die Minister van Finansies, Tito Mboweni, se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) wat nie 'n positiewe prentjie vir Suid-Afrika skets nie.
John Purchase, die uitvoerende hoof van die Landbousakekamer, Agbiz, meen die verhoging van skuldvlakke, die moontlikheid van verdere belastinguitbreidings in die 2020-begroting, asook swak ekonomiese groei verswak die situasie in die land in terme van die fiskus. Daarmee saam is belastingtekorte, wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ingewin moet word, ook nie goed nie. Hy meen daar is baie betrokkenes in die regering, soos Mboweni en lede van die Nasionale Tesourie, wat bewus is van ekonomiese hervorming wat nodig is in Suid-Afrika, maar nie almal is bereid om dit te implementeer nie. Purchase sê die feit dat Mboweni die landboubedryf breedvoerig in sy ekonomiese besprekingsdokument ingesluit het, wat onlangs vir kommentaar gepubliseer is, is egter 'n ligpunt.
Agri SA gaan voortgaan om die regering te pols om groter klem te plaas op die landboubedryf en om hulpbronne beskikbaar te stel om dié bedryf se mededingendheid 'n hupstoot te gee. Die bedryf moet ondersteun word, veral in droogtegeteisterde gebiede. Dit is volgens Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid se hoof van ekonomie en handel, Requier Wait, in reaksie op die Minister van Finansies, Tito Mboweni, se mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) wat 'n bleek prentjie skets vir die land in geheel, maar ook vir landbou. Wait sê Agri SA is teleurgesteld in die MTBR waar daar nie veel uitgebrei is oor die belangrike rol van landbou in die strewe na ekonomiese groei nie. Volgens Mboweni het Suid-Afrika se fiskale raamwerk sedert die Februarie-begroting vanjaar aansienlik verswak weens swakker ekonomiese groei en laer inkomste. Voorspellings vir ekonomiese groei is nou op 0,5% teenoor die 1,5% wat in Februarie vanjaar verwag is.
EN
Daar is steeds hoop in die Suid-Afrikaanse landboubedryf ondanks die swak ekonomie en beleidsonsekerheid oor grondbesit en onteiening. 'n Politieke ontleder van die Noordwes Universiteit (NWU), Theo Venter, meen groot en innoverende boere in Suid-Afrika is in die proses om 'n nuwe werklikheid te skep. Venter verwys onder meer na die ZZ2-tamatie- en -avokadopeer-boerdery. Venter meen egter teenstrydighede oor verskeie kwessies deur die regering, dra by tot groot onsekerheid in Suid-Afrika. Hy sê 'n duidelike voorbeeld daarvan is 'n werksessie rakende die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet, wat Woensdag deur die Parlement byeengeroep is. Dié grondwetwysiging is teenstrydig met wat die Minister van Finansies, Tito Mboweni, in sy MTBR gesê het oor Suid-Afrika, wat stabiliteit en duidelikheid oor eiendom benodig.
OFM-nuus
