Agriculture
Landbounuus-podcast: NK skaapboere wil kuddes behou─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:39 Mon, 04 Nov 2019
Skaapboere in die Noord-Kaap werp nou alles in die stryd om hul kuddes, waarvan talle al uitgedun moes word, te behou.
Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die Noord-Kaap se voorsitter, Hennie Dippenaar, sê produsente probeer hul uitgawes beperk, draai hul sente om en gebruik selfs van hul spaargeld om onder meer veevoer aan te koop. Hy sê op talle plase het boere nie meer geld om diesel te koop nie, so skaapkuddes word nou naby aan plaashuise aangehou sodat produsente nie die beperkte beskikbare veevoer, wat boonop peperduur is, na ander dele op plase hoef te vervoer nie. Hy sê nog 'n kostedoeltreffende maatreël is dat produsente mielies op groot maat aankoop. Dippenaar sê landboukoöperasies werk nou saam in dié verband. Hy sê veevoer kan nog in 'n mate bekom word, maar water is skaars. Boere in die Willeston en Van Wyksvlei-gebiede ry reeds water aan, maar daar is beperkte bronne.
Die Suider-Afrika Agri Inisiatief, oftewel Saai, wil familieboerderye wat geldelik in die knyp is ondersteun om met banke en kredietverskaffers op 'n kollektiewe grondslag te beding. Saai se uitvoerende hoof, Francois Rossouw, sê Saai ondersoek nou al meer as 50 situasies waarin boere 'n hoë skuldlas het weens die voortslepende droogte. Hy sê boere het by dié inisitatief kom aanklop in 'n desperate poging om nie weens skuld van hul plase afgesit te word nie. Rossouw sê daar is 'n dramatiese toename in boere wat selfmoord pleeg, juis weens die moeilike situasie waarin hulle is. Hy sê Saai gaan soveel as moontlik inligting oor die omvang van die verknorsing waarin produsente is, versamel sodat oplossings gevind kan word en daar met geldelike instellings vergader kan word. Rossouw meen boere kan hulself uit hul skuld boer sodra toestande verbeter en banke moet net tegemoetkomend wees. Belangstellendes kan 'n e-pos stuur na navrae@saai.org.
EN
Intussen sê Agri SA hy ondersteun die breë landbougemeenskap wat nou onder die uitmergelende droogte in Suid-Afrika gebuk gaan. Omri Van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê duisende ton voer is die afgelope vier jaar aan boere gelewer, terwyl geld ook geskenk is. Van Zyl sê kontantvloei en humanitêre verwante probleme vergroot nou in sekere gebiede en daarom het Agri SA 'n rampbestuursentrum op die been gebring. Die sentrum sal spesifiek fokus op rampe en die mitigering daarvan. 'n Impakstudie van droogtetoestande in al die provinsies in die land word nou onderneem en die inligting sal gebruik word om doelgerigte planne vir hulpverlening te maak.
* Besoek ofm.co.za kliek op die Agri Aid-banier om meer oor die droogtetoestande en hulpverlening in die sentrale binneland te lees. Kontak news@ofm.co.za as jy nuus en droogtehulpprojekte wil deel.
OMF-nuus
