Agriculture
Landbounuus-podcast: Agri SA bring rampbestuursentrum op die been─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:34 Tue, 05 Nov 2019
Agri SA het 'n rampbestuursentrum op die been gebring, omdat droogtetoestande en hulpverlening aan landbougemeenskappe nie meer tydelik is nie.
Daarmee saam is die impak van klimaatsverandering 'n werklikheid, met droogtetoestande wat in die stadium 'n normale sikliese klimaatsverskynsel is. Agri SA se adjunk-uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede, sê dié rampbestuursentrum se fokus is hoofsaaklik op rampe en die mitigering daarvan vir boere. Hy sê dié rampbestuursentrum is addisioneel tot dié organisasie se droogterampfonds wat al sedert 2015 in plek is, en daar is al meer as R20 miljoen ingesamel. Hy sê Agri SA hoop om met dié sentrum hulp, hetsy van 'n beleids- of oorlewingsoogpunt op 'n dag-tot-dag grondslag, aan boere op 'n meer georganiseerde wyse te verleen.
'n Verslag van die African Farmers Association of South Africa, Afasa, oor droogtetoestande in provinsies, stel voor alle betrokkenes, soos onder meer finansiële instellings en versekeringsmaatskappye, moet nou saamspan en boere ondersteun. AFASA se voorsitter, Neo Masithela, sê 'n voorlopige verslag vanaf dié organisasie se provinsiale strukture is reeds aan die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, voorgelê. Hy sê die Noord-Kaap, Noordwes, Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap word swaar getref en die droogte is nie 'n dreigende ramp nie, Suid-Afrika is reeds 'n rampgebied.
Hy sê AFASA ontvang daagliks verslae oor boere wat hul vee en gewasse verloor, terwyl boorgate uitdroog en watervlakke van damme laag is. AFASA se verslag toon meer as R12 miljoen se veeverlies is in die afgelope weke in KwaZulu-Natal aangemeld.
EN
Die Suider-Afrika Agri Inisiatief, Saai, wil alle boere met 'n groot skuldlas weens die voortslepende droogte, by banke ondersteun. Francois Rossouw, Saai se uitvoerende hoof, sê inligting oor boere se individuele situasies word nou versamel sodat daar kollektief met banke vergader kan word om dié boere tegemoet te kom. Besoek ofm.co.za en kliek op die Agri Aid-banier om meer oor die droogtetoestande en hulpverlening in die sentrale binneland te lees. Kontak news@ofm.co.za as jy nuus en droogtehulpprojekte wil deel.
OFM-nuus
