Agriculture
Landbounuus-podcast: Agri SA se rampbestuursentrum fokus op droogtesituasie─── CHRISTAL-LIZE MULLER 18:04 Wed, 06 Nov 2019
Agri SA sal die nuutste verwikkelinge en feite oor die droogtesituasie in sekere provinsies in die land volgende week op 'n mediakonferensie in Pretoria verskaf.
Daarmee saam sal doelgerigte planne in dié verband ook bekendgemaak word. Dit is volgens Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur, nadat Agri SA, 'n rampbestuursentrum op die been gebring het. Van der Rheede sê dié mediakonferensie gaan ook benut word om die regering aan te spoor om 'n paar miljard rand beskikbaar te stel, om verligting aan boere te bring. Dié boere gaan al vir etlike jare onder erge droogtetoestande en geldelike druk gebuk. Hy meen boere in die Noord-Kaap benodig nou tussen R5 en R10 miljard om uit hul geldelike nood te kom. Die mediakonferensie vind volgende Dinsdag plaas. Agri SA se rampbestuursentrum se fokus is op rampe en die mitigering daarvan vir landbouers. 'n Impakstudie van die droogte in die land se nege provinsies, vind nou plaas en sal aangewend word om doelgerigte planne vir hulpverlening in plek te stel.
Kundiges op die gebied van klimaatsverandering van die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (WNNR), waarsku gemeenskappe en veral boere om weens klimaatsverandering aanpassings in hul alledaagse lewenstyl te maak. Dr. Johan Malherbe, 'n weerkundige van die WNNR, sê hoë temperature en selfs hittegolftoestande wat in dele van die land voorkom, kan voortduur, en voorsorgmaatreëls moet getref word. Hy meen al word reën voorspel in gebiede in die komende week, is dit belangrik dat gemeenskappe besef klimaatsverandering is 'n werklikheid en dit gaan nie verdwyn nie. Volgens Malherbe gaan die hoogste temperatuurstygings in die noordelike deel van die land voorkom. Die kwik kan tot meer as 40 grade Celsius styg. Dit kan lei tot verdere wegholveldbrande dié seisoen. Boere moet let op hul vee en toesien dat die diere genoeg water het.
Betrokkenes by die Hoëveld Bonsmara-klub, wat deel was van die bulgroei-toets by die Sernick Groep se sentrum vir dié doeleindes, is in hul noppies met die uitslag van dié toets. Pierre van Rooyen, voorsitter van dié klub, sê 120 bulle is deur 24 telers ingeskryf waarna altesaam 50 bulle gekwalifiseer het om volgende jaar in Oktober op 'n veiling van dié klub aangebied te word. Hy sê dié klub hoop om sowat 40 bulle op dié veiling te hê. Volgens Van Rooyen gaan dié bulle, wat aan die Bonsmara-genootskap se minimum produksievereistes voldoen het en vir funksionele doeltreffendheid gekeur is, by die Sernick Groep aanbly, sodat hulle vir dié klub se veiling volgende jaar voorberei kan word. Van Rooyen sê die bulle het besonders goed in dié intensiewe bulgroeitoets gevaar, en het oor die 84 dae van toetsing 1,778kg per dag gegroei en 'n voer-omset van 6,24 gehad.
OFM-nuus
