Agriculture
Landbounuus-podcast: Omvang van bek-en-klouseer nog nie bepaal nie─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:38 Wed, 27 Nov 2019
Die volle omvang van die bek-en-klouseer uitbreking in Limpopo is nog nie bepaal nie.
Daarmee saam is nog gevalle van dié siekte vandeesweek in Limpopo bevestig. Die goeie nuus is dat dit beperk is tot die Molemole munisipale gebied. Gerhard Schutte, uitvoerende beampte van die Rooivleiprodusente-organisasie, RPO, sê die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling is steeds druk besig om die oorsprong asook die verspreiding van die besmette beeste vas te stel. Schutte doen weer 'n beroep op betrokkenes om die beweging van vee asook veilings van lewende hawe in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes tot 'n minimum te beperk. Hy sê Suid-Afrika se handelsvennote, onder meer China, is tevrede met dié dringende maatreëls wat in plek gestel is om die verspreiding van die siekte onder diere met gespelete hoewe, te beperk.
Die totale mielieverbruik in Suid-Afrika die seisoen kan 'n nuwe rekord behaal. Dit is volgens Luan van der Walt, 'n landbou-ekonoom van Graan SA (GSA), nadat die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) vandeesweek sy finale produksieskatting vir somergewasse vir die 2019-seisoen bekendgemaak het. Die NOK se kommersiële mielie-oes is op 11,25 miljoen ton gestel. Dit is sowat 0,64% meer as die vorige skatting en 10% kleiner as die totale oes van 2018. Die produksieskatting vir witmielies is op 5,53 miljoen ton onveranderd gelaat, terwyl die verwagte geelmielie-oes 5,720 miljoen ton is, wat 1,27% meer is as die vorige skatting. Van der Walt sê Suid-Afrika se geelmielieverbruik veral vir veevoerdoeleindes en die verbruik van witmielies plaaslik neem toe. Die NOK se voorlopige oppervlakteskatting vir somergewasse vir die 2020-seisoen sal op 29 Januarie volgende jaar vrygestel word.
EN
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku gemeenskappe om in hittegolftoestande deurlopend vloeistowwe in te neem, terwyl boere moet verseker dat hul diere genoeg water het. Daarmee saam moet boere ook, indien moontlik, hul diere van koelte voorsien. Michael Nethavani, 'n voorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor, sê dit is waardevolle wenke veral met die kwik wat vandeesweek in die westelike deel van die Vrystaat en Noordwes en in die grootste deel van die Noord-Kaap, styg. In sekere gebiede is daar hittegolftoestande met temperature bo 36 grade Celsius. In die Upington-distrik kan temperature van bo 40 grade Celsius verwag word. Nethavani sê boere moet daarteen waak om in die bloedige hitte in die veld te wees.
OFM-nuus
