Agriculture
Landbounuus-podcast: RPO glo dit kan rol speel om COVID-19 te bekamp─── CHRISTAL-LIZE MULLER 16:21 Wed, 18 Mar 2020
Die Rooivleisprodusente-organisasie, RPO, glo produsente kan 'n wesenlike rol speel om die verspreiding van die koronavirus in Suid-Afrika te bekamp.
Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van dié organisasie, sê die organisasie hanteer dié situasie met die nodige erns en dit is noodsaaklik dat daar bestaande maatreëls wat in plek is om die verspreiding van die koronavirus te verhoed, gehou word. Schutte sê dié virus het nog nie 'n impak op die rooivleisbedryf plaaslik nie. Mense koop rooivleisprodukte aan en nog geen negatiewe terugvoer is ontvang rakende die uitvoer van rooivleisprodukte nie.
Intussen het Vrystaat Landbou (VL) ook al sy landboubyeenkomste, wat in dié tydperk, sou plaasvind, uitgestel. Dit sluit onder meer in die Jongboer-konferensie, wat op 7 April in Bloemfontein sou plaasvind. VL se Jongboer van die Jaar sou ook op dié konferensie wat vanjaar sou fokus op die regte ammunisie vir landbouveiligheid, aangewys word. Francois Wilken, VL se president sê vordering in terme van die koronavirus en die verspreiding daarvan sal fyn dopgehou word. Hy sê dié organisasie verskaf ook op 'n gereelde grondslag inligting rondom die jongste verwikkelinge in 'n poging om verspreiding van dié virus te beperk.
EN
Die sensus vir kommersiële landbou vir 2017 word eerskomende Dinsdag deur die statistikus-generaal, Risenga Maluleke bekendgemaak.Die opname het ten doel gehad om basiese kwantitatiewe inligting oor Suid-Afrika se kommersiële landbou te versamel wat noodsaaklik is vir beplanning, beleidsformulering en voedselsekerheid. Resultate oor grondgebruik, grondbesit, gewasproduksie, veegetalle en die gebruik van masjinerie en finansies soos inkomste, uitgawes en besonderhede van aankope sal bekendgestel word. Maluleke sal die resultate aan die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thokozile Didiza, oorhandig.
OFM-nuus
