On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Aansoeke om waterlisensies moontlik bespoedig

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:48 Tue, 07 Jul 2020

Landbounuus-podcast: Aansoeke om waterlisensies moontlik bespoedig | News Article

Die Departement van Water en Sanitasie se voorneme om die aansoeke om waterlisensies voortaan binne 90 dae af te handel is goeie nuus vir boere, asook die land se ekonomie in geheel.


Dit is volgens Sputnik Ratau, woordvoerder van die Departement van Water en Sanitasie, nadat minister Lindiwe Sisulu aangekondig het dié aansoeke sal voortaan binne die tydperk verwerk word. Ratau sê dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede vroeër vanjaar sy kommer uitgespreek het oor die tydrowende wyse waarop dié aansoeke verwerk word. Hy het toé opdrag gegee dat die departement weer na wetgewing moet kyk. Ratau sê bestaande wetgewing bepaal dié proses moet binne die bestek van 300 dae geskied. Hy sê die lang aansoekproses was ook nie bemoedigend vir nuwe toetreders tot die bedryf nie. Selfs ander sektore van die ekonomie was gefrustreerd met die lang tydsverloop. Ratau sê op grondvlak is dit moontlik vir die departement om die proses te bespoedig. Hy sê die nuwe proses sal moontlik gou in plek gestel word en die publiek sal in kennis gestel word sodra dít geskied.

Steeds by waterkwessies... Agri SA het sy verbasing uitgespreek oor die Hooggeregshof in Pretoria se onlangse beslissing teen die verkoop van waterregte. Janse Rabie, dié organisasie se hoof van natuurlike hulpbronne, sê 'n volbank regters het beslis dit is nie meer moontlik vir die houer van 'n watergebruiksreg om dit te verhandel of te verkoop nie. Hy sê dié hof het sy uitspraak op die doelstellings van die Nasionale Waterwet, 36 van 1998 gegrond, en nie die vraag wat aan hom gestel is rakende uitklaring oor die korrekte interpretering van Artikel 25 van dié wet, beantwoord nie. Rabie sê dié artikel maak spesifiek voorsiening van oordragte van watergebruiksregte van een mens na 'n ander of van 'n stuk grond na 'n ander stuk grond. Hy sê Agri SA se uitgangspunt is waterverbruiksregte gaan oor die doeltreffende verbruik van water en dit is onsinnig dat dié regte na 'n ander stuk grond oorgedra kan word, maar daar mag nie geld daarvoor gevra word nie. Agri SA het die Doornkraal Besigheidstrust in die verhoor geldelik ondersteun en het saam met die Suid-Afrikaanse Vereniging van Waterverbruikersverenigings, 'n belang in die uitkoms van die geleentheid.

EN

Daarmee saam hoop Agri SA dat die Bloemfonteinse Appèlhof meer sekerheid en duidelikeheid sal gee rondom die Hooggeregshof in Pretoria se beslissing dat waterregte nie verhandel of verkoop mag word nie. Janse Rabie van Agri SA sê na dié uitspraak is daar aansoek gedoen om verlof tot appel. Dit sal Vrydag aangehoor word.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.