Agriculture
Landbounuus-podcast: Verhoog paraatheidsvlakke, vra VL─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:38 Tue, 14 Jul 2020
Vrystaat Landbou (VL) doen 'n ernstige beroep op boere, hul werknemers asook veiligheidswagte wat werksaam op plase is om hul paraatheidsvlakke te verhoog.
Dit is veral nodig ten opsigte van moontlike betreding en beweging van verdagte mense en voertuie op hul eiendom. Dr. Jane Buys, 'n veiligheidsrisiko-ontleder van VL, sê verdagte beweging op plase en kleinhoewes moet onmiddellik by landelike veiligheidskoördineerders van die polisie, asook VL se verteenwoordigers vir veiligheid, aangemeld word. Dit kom nadat twee voorvalle onderskeidelik Saterdag en Sondag in Bethlehem en Ventersburg afgeweer is. Niemand is in die voorvalle beseer nie. Buys sê Mike van Rensburg van Ventersburg en Coenraad van der Westhuizen van Bethlehem se plase is onderskeidelik geteiken.
Ysige weer het op die sentrale binneland toegeslaan. Daarmee saam is boere in die Noord-Kaapse winterreënvalstreek dankbaar vir goeie reën wat verligting bring met dié kouefronte wat oor dié provinsie beweeg. Danie Jacobs, voorsitter van Agri Namakwaland, sê ook boere in somerreënvalgebiede van dié droogtegeteisterde provinsie wat nou reën kry, is dankbaar vir elke druppel. Jacobs sê die belofte in die weervoorspellings dui duidelik daarop - en boere het dit deur die loop van die jare agtergekom - dat 'n koue en 'n nat winter vir 'n goeie somer met betrekking tot reën sal sorg. Daarmee saam raai hy besoekers aan dat Namakwaland, wat die blommeprag wil kom aanskou, om vir eers te wag omdat dit nog nie die regte tyd is nie, maar hy nooi mense uit om steeds dié streek te besoek.
EN
Intussen toon Agri Noord-Kaap se reënvalsyfers, wat aan boere beskikbaar gestel word, dat dit wyd gereën het die afgelope naweek in dié provinsie se winterreënvalgebiede. By Sutherland het tussen 5mm en 50mm reën sedert verlede Donderdag tot Sondag in dié gebied voorgekom. By Calvinia is tussen 4mm en 50mm gemeet en by Williston is tussen 4mm en 13mm gemeet. Gebiede in Namakwaland waar goeie reën voorgekom het, sluit Springbok in waar meer as 50mm reën geval het. By Garies is 70mm en by Kamieskroon is tussen 40mm en 60mm reën gemeet.
OFM-nuus
