On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Handel met vee per skip wyd ondersteun

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:53 Tue, 21 Jul 2020

Landbounuus-podcast: Handel met vee per skip wyd ondersteun | News Article

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), Agri SA, Agri Noord-Kaap en Agri Oos-Kaap, ondersteun die handel met vee per skip.


Dit moet egter eties gedoen word en diere moet nie mishandel word nie. In 'n gesamentlike verklaring sê dié organisasies die veeversendings moet binne die Wêreld- Dieregesondheidsorganisasie (OIE) se standaarde geskied. Dit moet ook onder toesig van die regering, as die regulerende owerheid, oorsien word. Dit kom nadat verteenwoordigers van die onderskeie organisasies Maandag in Bloemfontein vergader het. Agri SA se president, Pierre Vercueil, het die vergadering gelei en daar is konsensus bereik dat dié vorm van handel in die veebedryf die industrie kan uitbou. Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, het vroeër gesê daar bestaan 'n wanpersepsie oor die uitvoer van lewende hawe en rooivleis, per skip, na die buiteland.

Intussen het die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), wat ook 'n lid van die Rooivleis-bedryfsforum is, verslae ontvang rakende die vorige twee besendings lewende skape wat deur die Koeweitse skip, Al Messilah, vanuit Suid-Afrika uitgevoer is. Regeringsamptenare het die nakoming aan die Wêreld- Dieregesondheidsorganisasie (OIE) se standaarde verseker. In 'n gesamentlike verklaring deur die RPO en Agri SA en sy affiliate, het twee veeartsenykundiges ook namens die Rooivleis-bedryfsforum dié skip en voerkraal ondersoek. Luidens die verklaring voldoen die Al Messilah-skip, asook die voerkraal waar die skape aangehou word, aan OIE-standaarde. Daar word aanbeveel dat die derde besending skape so gou moontlik op die skip gelaai kan word. Dit kom nadat die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings 'n algehele verbod op die uitvoer van diere per skip eis. Dié raad se interdik teen die twee Koeweitse maatskappye, waaronder die maatskappy Al-Mawashi, word op 6 Augustus in die Hooggeregshof in Mkhanda, voorheen bekend as Grahamstad, finaal oorweeg.

EN

Die familieboerorganisasie, Saai, wil nou regstappe neem teen die regering se verbod op die verkoop en verbruik van wyn in restaurante. Dié organisasie wil die verbod in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria laat tersyde stel. Dit sal na verwagting op 18 Augustus plaasvind. Dié aansoek kom nadat president Cyril Ramaphosa vroeër vandeesmaand wéér ’n algehele verbod op die verkoop en vervoer van drank aangekondig het. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê die instelling van dié regulasies is arbitrêr en irrasioneel. Die regering se stelling dat die regulasies ingestel is om die verspreiding van die Covid-19-pandemie te beperk, en om te voorkom dat die land se gesondheidstelsel oorbelas word, is nie voldoende nie. Hy sê die regering gee voor dat hulle die ekonomie wil red, maar dié regulasies bedreig die bestaan van die oudste familieplase in Suid-Afrika. Dit, terwyl die plaaslike wynbedryf in geheel gekniehalter word.

OFM-nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.