Agriculture
Landbounuus-podcast: VL hoop wetstoepassers sal begrip hê─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:26 Thu, 08 Oct 2020
Die gebeure in Senekal by die hofverskyning van twee verdagtes, in verband met die moord op die jong Brendin Horner op 'n plaas in die Paul Roux-distrik, word nie deur Vrystaat Landbou (VL) goedgekeur nie.
Francois Wilken, president van dié organisasie, sê dit moet egter duidelik in ag geneem word dat dit 'n emosionele ervaring vir bywoners was. Mense van heinde en verre het opgeruk na Senekal ter ondersteuning van Horner se geliefdes. Wilken se reaksie kom nadat 'n groep mense die landdroshof Dinsdag binnegedring het. 'n Polisievoertuig is omgekeer en was later in ligte laaie. Wilken sê dit is jammer dat dié gebeure nou op 'n inhegtenisneming uitgeloop het. Hy sê daar is hoop en landbouers glo daar sal begrip wees onder wetstoepassers dat nie slegs boere nie, maar die hele land se emosies nou hoog loop. Wilken sê edelikheid in dié verband moet geskied, en die omstandighede van dié gebeure moet in ag geneem word. Dit kom nadat 'n 52-jarige man Woensdag deur die polisie ondervra is en toe in hegtenis geneem is vir sy beweerde betrokkenheid by die gebeure in Senekal. Ilanie Oberholzer van die firma N.O. Oelofse van Senekal en die regsfirma, Adriaan Janse van Rensburg, het aan OFM-nuus bevestig dat hulle namens die aangeklaagde optree. Dié aangeklaagde sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn op onder meer aanklagte van opsetlike saakbeskadiging en openbare geweld.
EN
Intussen het Agri Noord-Kaap en die provinsiale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) die moord op Leon Brits, 'n sakeman en 'n deeltydse boer van Pofadder, ten sterkste veroordeel. Joe Scholtz, voorsitter van Agri Noord-Kaap se komitee vir landelike veiligheid en veediefstal, sê die moord op Brits het skokgolwe deur die bedryf gestuur. Scholtz sê hy is met die polisie in verbinding en die voorval word ondersoek. Hy sê daarmee saam loof Agri Noord-Kaap die plaaslike polisie vir hul vinnige optrede nadat dié moord aangemeld is. Dié organisasie doen opnuut 'n ernstige beroep op die polisie om alles in samewerking met georganiseerde landbou in die stryd te werp om plase en landelike gemeenskappe te beveilig. Scholtz vra ook dat landelike gemeenskappe meer paraat moet wees, veral met die toename in geweldsmisdaad wat nou oor die land heen voorkom.
OFM-nuus
