Agriculture
Landbounuus-podcast: Vuurwapenamnestie se sperdatum binnekort─── 11:55 Thu, 07 Jan 2021
Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) waarsku dat daar etlike weke oor is vir vuurwapeneienaars om onwettige vuurwapens aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te oorhandig.
Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, sê die amnestie wat op 31 Januarie eindig, bied ook ‘n geleentheid om vuurwapens waarvan die lisensies verval het, in te handig terwyl die eienaars vir nuwe lisensies kan aansoek doen. Hy waarsku dat diegene wat nie gebruik maak van die amnestietydperk nie krimineel vervolg kan word en ‘n tronkstraf van tien jaar in die gesig staar.
Vrystaat Landbou sê hy is reeds in gesprek met die provinsie se departement van Plaaslike Regering nadat talle boere in dele van die provinsie onder oorstromings deurgeloop het. Die SABC berig die president van Vrystaat Landbou, Francois Wilken, sê boere by Hoopstad en Bultfontein het skade gely met aanplantings asook oorstromings by hul huise. Wilken sê die organisasie doen alles in sy vermoë om die nood te verlig, maar het ook hulp van buite nodig. Wilken sê ondanks die skade is die boere in die provinsie baie dankbaar vir die goeie reën. Op sekere plekke het tot soveel as honderd millimeter die afgelope naweek uitgesak. Paaie het ook verspoel. Boere sê die meeste paaie in landelike gebiede was vóór die swaar reën reeds in 'n swak toestand en is op plekke nou geheel en al onbegaanbaar.
EN
Die kurator van die /Ai/Ais Richtersveld oorgrenspark in die Noord-Kaap - waar 85 persent van die park se plantegroei die afgelope 35 jaar verdwyn het - Pieter van Wyk, sê klimaatsverandering sowel as die jarelange droogte en stropery is 'n bedreiging vir die streek se plantegroei. Van Wyk sê hulle werk nou saam met die natuurbewaringsowerhede asook die Suid-Afrikaanse polisie om veral stropery in die park aan te spreek. Dit, terwyl bewusmaking rondom die plantspesies ook in gemeenskappe in en rondom die park gedoen word. Van Wyk, wat sy lewe lank in die Richtersveld woon, sê die park huisves ook die tweede meeste plantspesies van alle nasionale parke regoor Suid-Afrika. Hy het onlangs die sogenaamde Riete 25-plant asook 'n nuwe soort harpuisbos in die park ontdek. Van Wyk sê die publiek moet voortdurend ingelig word oor die samestelling van die natuur asook bewaringswenke en maniere om stropery te voorkom. Hy sê plantspesies word gestroop om in tuine in stede aan te hou, terwyl sommiges glo dat sekere plantsoorte medisinale voordele inhou.
OFM-nuus/Elsabé Richard/Roderick Titus/SABC-nuus
