Agriculture
Landbounuus-podcast: Covid-19 inperking stuit nie plaasmoorde nie─── ELSABÉ RICHARD 13:42 Fri, 08 Jan 2021
Die inperking op beweging in lyn met verlede jaar se COVID-19-regulasies het klaarblyklik nie die voorkoms van moorde op plase en kleinhoewes verminder nie.
Volgens statistieke van TLU SA, het 71 sulke moorde landwyd in 2020 plaasgevind. Dit toon 'n toename van 26,8% teenoor die 56 moorde op plase en kleinhoewes gedurende 2019. Luidens Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van TLU SA, het die organisasie plaasaanvalle en -moorde gedefinieer as gewelddadige optrede teen inwoners, werkers en besoekers aan plase en kleinhoewes. TLU SA sê in 'n verklaring die organisasie het sy data oor hierdie aanvalle en moorde uit 'n reeks direkte en indirekte bronne versamel, en beoog om die akkuraatheid sover moontlik te verifieer. Saam met die 71 plaasmoorde wat aangeteken is, het 397 plaasaanvalle plaasgevind. Die statistieke toon dat die Vrystaat tien moorde ná 50 aanvalle gehad het; die Noord-Kaap het drie moorde ná agt aanvalle gehad; terwyl 63 aanvalle sonder moorde in Noordwes aangemeld is.
Wêreldvoedselpryse het in Desember 2020 vir die sewende agtereenvolgende maand gestyg, gelei deur suiwelprodukte en plantaardige olies. Luidens 'n verklaring wat deur die Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) vrygestel is, was die VLO-voedselprysindeks in Desember gemiddeld 107,5 punte of 2,2 persent hoër as in November. Gedurende 2020 was die maatstafindeks, wat maandelikse veranderinge in die internasionale pryse van algemeen-verhandelde voedselprodukte volg, gemiddeld 97,9 punte. Dit is 'n hoogtepunt van drie jaar en 'n styging van 3,1 persent vanaf 2019. Die VLO-graanprysindeks het vanaf November met 1,1 persent gestyg en was vir die hele 2020 gemiddeld 6,6 persent hoër as die vlak van 2019. Uitvoerpryse vir koring, mielies, sorghum en rys het in Desember gestyg, en het gedeeltelik hoër gestyg weens kommer oor groeitoestande en oesvooruitsigte in Noord- en Suid-Amerika, sowel as in Rusland.
EN
'n Bekende in die veebedryf, Chris Derksen, verskaf soos oudergewoonte die veilingspryse vir lewende hawe. Hy versprei dié inligting sodat produsente en kopers dieselfde inligting tot hul beskikking het om sodoende ingeligte besluite te kan neem met die aankoop en verkoop van lewende hawe op veilings. Die Noord-Vrystaat word as 'n indeksgebied gebruik. Derksen verskaf vandeesweek aanduidende pryse vir lewendehawe. Dit aangesien veilings in dié stadium te klein is om die presiese pryse te kan verskaf. Speenkalwers, onder 200kg, het teen R40 per kg verkoop, terwyl speenkalwers oor 250kg, teen R36 per kg verkoop het.
OFM-nuus
