On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Vrystaat Landbou vra vir kommentaar oor onteinening

───   ELSABÉ RICHARD 14:33 Tue, 09 Feb 2021

Landbounuus-podcast: Vrystaat Landbou vra vir kommentaar oor onteinening  | News Article

Vrystaat Landbou (VL) doen 'n beroep op nie net die eienaars van plaasgrond nie, maar ook alle eiendomseienaars om gebruik te maak van die verlengde tydperk vir kommentaar op die Wetsontwerp op Onteiening.

Skriftelike voorleggings kan nou gedoen word tot 28 Februarie, waarna VL sy lede sal lei om deel te neem aan die openbare verhore wat daarop volg. Die organisasie sê in 'n verklaring lede van die publiek moet die twee wetgewende prosesse wat tans ter sprake is, duidelik verstaan. Dit is daarop gemik om 'n beginsel vas te stel dat grond onteien kan word teen nul vergoeding. VL sê die een behels die proses van ‘n onteieningswetsontwerp en die ander is die konsepproses vir die 18de wysigingswetsontwerp op die Grondwet, om nul vergoeding moontlik te maak. Volgens VL is dit baie makliker om die beginsel van onteiening sonder vergoeding deur die parlement te laat aanvaar deur die wetgewende proses wat slegs 'n meerderheid van 50% in die parlement vereis, terwyl 'n grondwetwysiging van hoofstuk 2 die steun van twee-derdes van die parlement vereis. Daarom meen VL dit is belangrik om die Onteieningswetsontwerp in sy huidige formaat te stop.

Intussen het AfriForum Maandag geskrewe kommentaar ingedien by die Portefeuljekomitee vir Openbare Werke en Infrastruktuur, teen die Onteieningswetsontwerp. Die organisasie sê dit is gekant teen die aanvaarding van hierdie wetsontwerp, aangesien die deurvoer daarvan ’n vernietigende uitwerking sal hê op die lewens van alle Suid-Afrikaners ten opsigte van huiseienaarskap, voedselsekuriteit en ekonomiese stabiliteit. Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê verskeie dele van die wetsontwerp is ook ongrondwetlik.

EN

Suid-Afrikaanse werkers op plase in Amerika is so gesog dat die Amerikaanse president spesiale toestemming verleen het sodat Suid-Afrikaners met ’n H-2A-visum na Amerika kan reis. Joe Biden, die Amerikaanse president, het einde Januarie ’n tydelike beperking op die reis van nie-Amerikaanse burgers van lande soos Suid-Afrika geplaas om die verspreiding van Covid-19-variante uit dié streke te beperk. Volgens Landbou.com het verskeie landbougroepe en boere egter die president gevra om toestemming te gee dat Suid-Afrikaanse plaaswerkers na Amerika kan reis vanweë dié werkers se vaardigheid om met landboumasjinerie soos trekkers te werk. Nadat Biden die reisverbod ingestel het, het die federasie vir die Amerikaanse plaasburo ’n brief aan die Amerikaanse minister van buitelandse sake en waarnemende minister van binnelandse veiligheid geskryf, en versoek dat Suid-Afrikaanse H-2A-werkers nie aan die reisverbod onderworpe moet wees nie. H-2A-werkers is tydelike werkers wat landboudienste verrig.




OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.