Agriculture
Landbounuus-podcast: SA Jagters veg vir die reg om 'n vuurwapen te besit vir selfverdediging─── ELSABÉ RICHARD 12:24 Thu, 10 Jun 2021
Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging moedig sy lede en die algemene publiek aan om kommentaar te lewer op die wysigingswetsontwerp op vuurwapens en elke petisie te steun om hul regte op die besit van 'n vuurwapen te beskerm.
Dit het gevolg nadat die wetsontwerp verlede maand in die Staatskoerant gepubliseer is en onder meer gesê het dat geen lisensies uitgereik sal word vir selfverdediging as rede nie. Die vereniging sê om iemand die reg te ontken om 'n vuurwapen vir selfverdediging te besit, verreikende gevolge sal hê. Verder sê SA Jagters dat daar talle ander wysigings aan afdelings van die wet is wat as onuitvoerbaar en onprakties beskou word, en wat waarskynlik die jag- en sportskiet-sektor in die land kan benadeel. Ander wysigings sluit in die beperking van die herlaai van ammunisie deur vuurwapeneienaars vir eie gebruik. Die sperdatum vir openbare kommentaar is 4 Julie 2021.
Die landbousektor se Bruto Binnelandse Produk, oftewel BBP, het vir die eerste kwartaal van 2021 met 3,2% gekrimp. Agri SA sê in 'n verklaring dat hierdie afname hoofsaaklik toegeskryf kan word aan die laer produksie van akkerbou- en diereprodukte. Die organisasie voeg by dat hierdie afname te wagte was aangesien die eerste kwartaal van die jaar gewoonlik gekenmerk word deur beperkte landbou-aktiwiteite. ’n Groot deel van die landbou-BBP is gekonsentreer in akkerbou. Wat somergewasse betref, word daar geplant ná afloop van die eerste seisoenale reën, ongeveer in Oktober, wat normaalweg voortduur tot Januarie, met die oesseisoen wat in Mei afskop. Diereproduksie is ook negatief beïnvloed, hoofsaaklik weens die droogte in sekere dele van die land en siektes wat in ander dele uitgebreek het. Namate kuddes egter herbou word, kan ’n positiewe uitkoms vorentoe verwag word.
EN
'n Bekende in die veebedryf, Chris Derksen, verskaf soos oudergewoonte die veilingspryse vir lewendehawe. Hy versprei dié inligting sodat produsente en kopers dieselfde inligting tot hul beskikking het om sodoende ingeligte besluite te kan neem met die aankoop en verkoop van lewendehawe op veilings. Die Noord-Vrystaat word as 'n indeksgebied gebruik. Volgens Derksen het speenkalwers op die plaaslike veilings, onder 200kg, teen R41,97 per kg verkoop. Speenkalwers tussen 200kg en 250kg het teen R39,21, en speenkalwers oor 250kg het teen R37,46 per kg verkoop. Vir meer inligting besoek vleisprys.co.za.
OFM-nuus
