Agriculture
Landbounuus-podcast: Agri SA vra vir Covid-19 inentings voorkeur vir landboubedryf─── ELSABÉ RICHARD 14:13 Tue, 22 Jun 2021
Agri SA het 'n beroep op die regering gedoen om die landboubedryf se pleidooi te oorweeg en voorkeur aan hulle te gee om Covid-19 inentings te ontvang.
Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê sover het gesondheidswerkers, persone bo die ouderdom van 60, en meer onlangs onderwyspersoneel, voorkeur vir inentings gekry, terwyl noodsaaklike werkers soos dié in die landbousektor nog nie in ag geneem is vir die inentingsprogram nie. Van der Rheede sê die organisasie is bekommerd dat, indien daar nie voorkeur gegee word aan noodsaaklike werkers soos boere en plaaswerkers deur die regering nie, dit ’n nadelige uitwerking kan hê op die uitsonderlike bydrae van die sektor in terme van werkskepping, buitelandse valuta-verdienste en voedselsekerheid vir die land as geheel. Agri SA se pleidooi volg nadat OFM-nuus vroeër berig het dat die boerderygemeenskap van Marquard in die Vrystaat die verlies van Chris en Corrie Trytsman, ‘n pa en sy seun wat jare lank naby Marquard geboer het, betreur. Die oudste broer en ook ‘n boer, Lewies Trytsman, het aan OFM-nuus vertel dat sy broer en pa albei weens Covid-19 oorlede is kort nadat hulle positief getoets het.
Hoewel die eerste kwartaal van 2021 se ekonomiese groeisyfers van die landboubedryf, wat deur Statistieke Suid-Afrika bekend gemaak is, 'n effense afname toon, bly die sektor steeds ‘n ligpunt in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit is volgens dr. Frikkie Maré, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat. Syfers toon dat daar is ‘n minimale groei van 7,5% is teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Verlede jaar se groei van 28% was egter grootliks beïnvloed deur die knellende droogtes van 2019. Maré sê ten spyte van die afname in vanjaar se groeisyfers, is dit steeds die beste van al die bedrywe. Maré voeg by dat daar egter onthou moet word dat die eerste kwartaal van 2019, waarop verlede jaar se eerste kwartaal se syfers gebaseer is, vir landbou baie swak was met 'n negatiewe groei van 12,7%.
EN
Graan SA het 'n nuwe uitvoerende hoof aangestel nadat Jannie de Villiers vroeër aangekondig het dat hy einde Augustus vanjaar sal uittree as uitvoerende hoof. Dr. Pieter Taljaard neem vanaf 1 September die leisels by De Villiers oor. Die organisasie sê in 'n verklaring Taljaard is welbekend in die landbousektor en bied 'n magdom kundigheid aan hierdie rol, aangesien hy die afgelope jare in 'n aantal senior leiersfunksies gedien het. Hy het jare saam met Graan SA gewerk in sy hoedanigheid by Bayer, Monsanto, NWK en as dosent aan die Universiteit van die Vrystaat.
OFM-nuus
