On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Waarskuwing van sterk winde

───   ELSABÉ RICHARD 13:50 Tue, 14 Sep 2021

Landbounuus-podcast: Waarskuwing van sterk winde | News Article

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het weer eens 'n waarskuwing van sterk winde vir Dinsdag tot Donderdag uitgestuur.

Hierdie sterk winde kan die bestryding van veldbrande bemoeilik en daarom word die publiek gewaarsku om nié oop vure in die veld te begin nie omdat dit maklik kan versprei. Volgens die Vrystaatse Sambreel-brandbeskermingsvereniging se Jan de Villiers, word wind met 'n spoed van meer as 50 km/h Dinsdag oor die Sentraal- en Wes-Vrystaat verwag, wat Woensdag na die Oos-Vrystaat sal versprei. De Villiers sê brandbestryders moet ten alle tye gereed wees om te reageer, sou daar ‘n brand ontstaan en veldbrande moet by die brandbeskermingsvereniging in die omgewing aangemeld word. Hierdie waarskuwing volg nadat verskeie veldbrande regoor sentraal Suid-Afrika die afgelope weke aangemeld is. Meer as 'n miljoen hektaar weiveld is in totaal in die Vrystaat-, Noord-Kaap- en Noordwes-provinsies verwoes. Infrastruktuur is ook afgebrand en diere het in die brande omgekom.

Kommer bestaan oor nog swerms sprinkane wat oor dele van Suid-Afrika kan voorkom wanneer die volgende somerreënseisoen aanbreek. Landbou.com berig Dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder van CropLife SA, sê hoewel reën die afgelope weke oor dele van die Karoo voorgekom het, is hy nie bekommerd oor ’n moontlike uitbreking binne die volgende paar weke in dié gebiede nie, want die winter in die Karoo was besonder koud en daarom sou baie van die sprinkaaneiers wat in die grond was, gevrek het. Verdoorn meen dat sprinkane beslis in die komende somer gaan voorkom. Hy sê swerms het reeds in die noorde van Namibië begin voorkom en dat dit veral gebiede in die Karoo, die Noord-Kaap en die Wes-Vrystaat is wat hard deur swerms getref kan word. Verder voeg Janine Byleveld, ’n bedryfsamptenaar by Agri Noord-Kaap, by dat daar verlede week met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se sprinkaanamptenare vergader is om die moontlikheid van ’n sprinkaanuitbraak te bespreek.

EN

Vinpro verwelkom die vermindering van beperkings wat 'n positiewe effek op wyntoerisme sal hê – ? subsektor wat veral swaar getref is deur vorige beperkings. Dit is volgens Vinpro-bestuurshoof, Rico Basson, nadat President Cyril Ramaphosa die land se Covid-19 inperking na vlak 2 geskuif het. Basson sê in 'n verklaring die nuwe regulasies sluit die toename in die toegelate kapasiteit en langer handelsure by restaurante in, asook ? toename in die aantal persone wat by byeenkomste toegelaat word. Maar hy sê die organisasie glo egter steeds dat drankverkope volledig heropen moet word, onderhewig aan lisensievoorwaardes en volgens streng Covid-19 gesondheids- en veiligheidsprotokolle. OFM-nuus se Elsabé Richard berig Basson sê dít met inagneming van onder meer die stand van infeksiesyfers en hospitale se kapasiteit.




OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.