Agriculture
Landbounuus-podcast: Droogtehulp vir Oos-Kaap─── ELSABÉ RICHARD 14:44 Fri, 12 Nov 2021
Die droogtehulp-organisasie, Bring Hoop, gaan hierdie naweek tonne kuilvoer en mielies, sowel as voerbale ter waarde van ongeveer R1,5 miljoen aan boere in die Aberdeen- en Willowmore-omgewings in die Oos-Kaap skenk.
Chris van Beljon, stigter van dié organisasie, sê mielieskenkings is hoofsaaklik deur boere in die Vrystaat gedoen, terwyl boere in die Noordwes onder meer kuilvoer geskenk het. Van Beljon beklemtoon dat, ten spyte van goeie reënval wat oor groot dele van die land geval het, is daar steeds boere wat onder erge droogtetoestande gebuk gaan. Bring Hoop teel ook intussen skape om boere, wat hulle kernkuddes moes verminder weens die droogte, te help om hulle kernkuddes weer op te bou. Besoek Bring Hoop se Facebook-blad vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak by die organisasie se droogtehulp-projekte.
Die Landbousakekamer, Agbiz, sê hy verwelkom die Mediumtermyn-begroting, wat volgens dié organisasie kontinuïteit tussen Tito Mboweni, voormalige minister van finansies, en sy opvolger, Enoch Godongwana, toon. Die organisasie sê in 'n verklaring die Nasionale Tesourie verwag dat die Suid-Afrikaanse ekonomie vanjaar met 5,1% sal groei, vanaf 'n inkrimping van 6,4% in 2020. Agbiz sê verder die klem op die regering se verbintenis tot fiskale konsolidasie en strukturele hervormings om ekonomiese groei op te hef, is 'n welkome stap.
EN
Bokboerdag is op Donderdag 11 November by Buffelsfontein Beesboerdery-restaurant in Menlopark, Pretoria, gehou om die bokboere van Suid-Afrika te vier. Saai sê in 'n verklaring bokboere in Suid-Afrika ervaar baie uitdagings soos onder meer droogte in die Oos-Kaap, wat die sybokhaarboere knou, en bek-en-klouseer wat inheemse bokke en uitvoer kniehalter. Die grootste uitdaging is egter die tekort aan bokke vir hierdie groeiende mark. Die organisasie sê verder daar is talle buitelanders wat in die land woon wat daarvan hou om bokvleis te eet en dit stoot die vraag na bokvleis in restaurante en kettingwinkels op. Geleenthede soos hierdie dag skep blootstelling op elke moontlike vlak om die ras te bevorder en te adverteer.
OFM-nuus
